EPHRAYIM, DIE VERGETE VRUG WORD WEER BYGEVOEG! 

Kom ons kyk weer ‘n keer na die uitleg van die verskillende stamme soos wat hulle volgens Bemidbar / Num 2 en 3 rondom die tabernakel ingedeel moes word:

 

Yehudah moes aan die Oostekant, reg by die ingang van die tabernakel stelling inneem.  Ephrayim moes aan die teenoorgestelde kant, die Westekant, stelling inneem.  Tussen Yehudah en die tabernakel, moes Mosheh, Aharon en Aharon se seuns laer opslaan.  En tussen Ephrayim en die tabernakel vind ons die Lewiete wat uit die geslag van Gereshon was.  Alhoewel daar VIER hoofgroepe rondom die taberakel geplaas is - een Oos, een Suid, een Wes, en een Noord - is dit veral die twee hoofgroepe, Yehudah (Oos) en Ephrayim (Wes), wat vir ons van profetiese belang is, aangesien dit in die geskiedenis geblyk het dat die hele volk later by een van hierdie 2 groepe ingedeel is.   ‘Yehudah’ het later sinoniem geword met die Suidelike ryk van Yisrael (bestaande uit hoofsaaklik Binyamin en Yehudah), terwyl  ‘Ephrayim’ sinoniem geword het met die Noordelike ryk van Yisrael (bestaande uit die oorblywende tien stamme). 

Daar lê verreikende implikasies opgesluit in die plasing van die twee stamme, Yehudah en Ephrayim, rondom die tabernakel.  Ons het reeds gesien dat die strategiese posisie van Yehudah by die ingang van die tabernakel, dui op die Leeu uit die stam Yehudah, Yahshua die Messias, wat vir sy skape die (enigste) Weg en Deur na die Vader sou word.  Deur bloot na die uitleg van die stamme rondom die tabernakel te kyk, kan die afleiding alreeds gemaak word dat enige persoon wat sou begeer om in die teenwoordigheid van die Almagtige (d.w.s. die binnehof, die Heiligdom of Afgesonderde Plek en die Allerheiligste of Mees Afgesonderde Plek) te kom, dit slegs kon doen deur hom by Yehudah te ‘skaar’ en van die kant af in te gaan waar Yehudah deur Yahweh self geplaas is.  Ook Ephrayim (en so ook elke ander stam van Yisrael) het geen ander opsie gehad as om van die kant van Yehudah af in te gaan nie.   

Wie is Ephrayim werklik en wat is die betekenis vir ons, vandag, van hierdie stam wat later verteenwoordigend van die Noordelike tien stamme van Yisrael geword het?  Ons gaan hier slegs ‘n paar aspekte behandel wat vir ons kan help om te verstaan hoedat Yahweh reeds in die tabernakel-periode die patroon neergelê het vir sy plan vir die verlossing van die nasies reg deur die geskiedenis tot in die tyd waarin ons vandag lewe. 

Die woord ‘Ephrayim’ het met vrugbaarheid te make.  Toe Yoseph se twee seuns gebore is, het hy die tweede seun ‘Ephrayim’ genoem, omdat Yahweh hom ‘vrugbaar gemaak het in die land van (sy) ellende’ (Bereshit / Genesis 41:52).  Maar Yoseph sou nie op daardie stadium die diepere, profetiese betekenis verstaan het van die naam van hierdie seun nie.  Sy naam was nie net ‘Ephrayim’ omdat Yoseph en sy familie vrugbaarheid in Egipte ervaar het nie.  Sy naam was ook ‘Ephrayim’ omdat die deel van Yisrael wat later aan Yoseph verbind sou word (die tien stamme van die Noordelike Ryk) buitengewoon sou vermeerder (of: buitengewoon ‘vrugbaar’ sou word) omdat hulle in ballingskap weggevoer sou word en tussen al die volkere van hierdie aarde gesaai en vermeng en verstrooi sou word (Yirmeyahu 9:16; Yechezkel 36:19; Zecharyah 10:9; Hoshea 7:8).  Ephrayim sou buitengewoon ‘vrugbaar’ genoem word, omdat hy met die afgode van die nasies sou hoereer en kinders sou verwek wat uit geestelike ontug gebore is (Yechezkel 6:9; Yechezkel 23:1-9; Hoshea 9:1).  Alhoewel Yahweh hierdie proses toegelaat het, is dit nie die soort ‘vrugbaarheid’ wat Hy vir die nageslag van Ephrayim in die vooruitsig gestel het nie. 

Die Lewietiese afdeling wat aan Ephraim se kant van die tabernakel moes stelling inneem, is Gereshon.  Die leier van hierdie groep was Elyasaph (Bemidbar / Numeri 3:24).  Die naam ‘Elyasaph’ beteken ‘Elohim sal byvoeg’.  Die naam ‘Yoseph’ (wat beteken: ‘om by te voeg’) maak deel uit van die naam ‘El-yasaph’.  Yoseph was die vader van Ephrayim.  Dit was deur Yoseph dat ‘n bykomende stam by die kinders van Yisrael ‘bygevoeg’ is, aangesien die twee seuns van Yoseph (Ephrayim en Menasheh) later in sy plek as deel van die 12 stamme van Yisrael gereken is.  Die profetiese betekenis hiervan is dat Yahweh dit deur Yoseph reg van die begin af so beplan het dat ‘n bykomende ‘stam’ by die volk Yisrael gevoeg sou word.  Dit behels dat mense wat nie as ‘Jode’ bekendstaan nie, op ‘n later stadium (beslis ook in ons dag) onder die sambreel van ‘Ephrayim’ uit die nasies ‘bymekaargemaak’ word, en by die ware volk van Yahweh ‘bygevoeg’ word.  Wie is die ware volk van Yahweh?  Dit is hulle (uit Yehudah, sowel as Ephrayim) wat na sy Naam genoem is (Yeshayahu 43:7); hulle wat sy Naam aanroep (Yoel 2:32); hulle wat sy Naam loof (Tehillim / Psalm 140:14) en hulle wat sy Naam verkondig (Yeshayahu 12:4).  Die Nuwe Testament noem hierdie groep mense (soms ook die  ‘oorblyfsel’ of ‘remnant’ genoem) die ‘ware aanbidders wat die Vader in gees en in waarheid sal aanbid’ (Joh 4:23).   

Kan iemand wat voorheen die name van ander gode aangeroep het of iemand wat glad nie deel van Yisrael is nie, deel word van die ware volk van Yahweh?  Die Skrif antwoord met ‘n duidelike ‘JA’ - en dit word bevestig deur die naam van die ander seun van Yoseph.  ‘Menasheh’ beteken ‘om te vergeet’ of meer korrek: ‘om te laat vergeet’.  Die ander seun van Yoseph, Menasheh, herinner ons daaraan dat as ons bereid is om ons te bekeer van ons afvalligheid en ongehoorsaamheid, ja, selfs van die geestelike ontug wat ons voorheen gepleeg het, en ons heelhartig tot Yahweh te keer, Hy bereid sal wees om te ‘vergeet’ van ons oortredinge - nie omdat Hy vergeet-agtig is nie, maar omdat Yahshua, die Messias en Verlosser, deur sy bereidheid om ons oortredinge op Hom te neem, die wetlike vereistes nagekom het om die Vader ‘te laat vergeet’ en aan ons sondes nie meer te dink nie! 

Dit wat met Yoseph in Egipte gebeur het, het net soveel profetiese betekenis as wat ons tot dusver oor sy seun Ephrayim gesê het. Vir ons is dit belangrik omdat die nageslag van Ephrayim vanselfsprekend ook die nageslag van Yoseph is.  Bereshit / Genesis 45:7 is in hierdie opsig van kardinale belang: ‘Maar Elohim het my (Yoseph) voor julle uit gestuur om vir julle =n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot =n groot verlossing.’  Ons sien hierin duidelik dat Yoseph ‘n tipe van die Messias was.  Die aanvanklike verwerping en latere verhoging van Yoseph dui onmiskenbaar op die vernedering en verhoging van die Messais.  En let wel: wat hy gedoen het, was om ‘vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker’!  Ja, Yoseph is deur sy broers vir dood gereken, sodat hy hulle later in die lewe kon hou, net soos die Messias moes sterf, sodat Yahweh van sy straf kon afsien (d.w.s. daarvan ‘vergeet’), en ek en jy in die lewe gehou kon word. 

Yoseph was nie net ‘n tipe van die Messias nie, maar ook ‘n tipe van wat later met Yisrael, oftewel Ephrayim gebeur het.  Ons weet uit ander gedeeltes in die Skrif dat die Vader oor Yisrael net so sterk gevoel het as wat Hy oor sy eie Seun gevoel het (vgl. bv. Shemoth / Exodus 4:22).  Net soos wat Yoseph vir ‘n sekere tyd lank  uitgewerp is en tussen die heidennasies (Egipte) gewoon het - ter wille van die redding en die behoud van sy broers - net so is Ephrayim vir ‘n seisoen lank onherkenbaar tussen die nasies verstrooi, nie net ter wille van die redding van Yisrael nie, maar ook ter wille van die behoud van diegene uit die heidennasies wat (soos Yeshayahu 56:3-7 dit stel) begeer om by Yahweh aan te sluit.  Ons sien vandag hoedat die betekenis van die naam van Yoseph in vervulling gaan: mense uit elke volk en stam en nasie word by die uitverkore volk van Yahweh ‘bygevoeg’omdat hulle besef daar is net een, ware Elohim, en net een manier om by Hom uit te kom.  Zecharyah 8:23 stel dit so: ‘In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van =n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat Elohim met julle is.’  In hierdie hele proses word die diepste betekenis van die naam ‘Ephrayim’ ook vervul: Uiteindelik begin die soort vrugbaarheid wat die Vader aanvanklik oor Ephrayim uitgeroep het, gestalte aan te neem: meer en meer mense sluit by sy ware volk aan en vertoon in hulle lewens die vrug wat by die bekering pas.  Watter soort vrug is vrug wat by die bekering pas?  Die enigste vrug wat by die bekering pas, is daardie lewenstyl en lewenskode wat Yahweh reg aan die begin aan sy volk geopenbaar het en waarop hulle geleidelik al hoe meer hulle rug gekeer het.  Bekering beteken om terug te keer na dit wat voorheen as norm gegeld het.  Vir ons kan dit slegs beteken: ‘n terugkeer na die woord en die onderwysinge en die opdragte van Yahweh - sonder om onderskeid te maak, sonder om te sif, sonder om te huiwer.  Dan sal ons begin sien dat daar spontaan ‘vrugte’ in ons lewens tevoorskyn kom, die vrug van die Gees van Yahweh, vrugte wat hou, vrugbaarheid in ons handel en wandel wat ons voorheen nooit geken het nie.  ‘En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet ...my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet ... hulle is =n geslag van die wat deur Yahweh geseën is ... En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek.’ (Yeshayahu 65:21-24).