DIE BETEKENIS VAN YAHWEH SE GEREGTIGHEID VOLGENS DIE BOEK TEHILLIM (PSALMS) 

 

1.      Teh 22:30-31:  Sy geregtigheid sal ontvang, beoefen en oorvertel word deur ‘n generasie wat Hom dien (“eved” = to work, to be a servant, to feel compelled to serve).  Hulle wat die “evangelie” as ‘n geleentheid gebruik om geld en roem en status te verwerf (en nie soos die Meester die gesindheid van ‘n dienskeg aanneem nie), kan nie aanspraak maak op sy geregtigheid nie. 

2.      Teh 24:3-6: Sy geregtigheid sal ontvang word deur ‘n generasie wat hulle siel nie oorgee aan nietigheid nie (“shuh” = emptiness, nothingness, vanity).  Hierdie woord is dieselfde woord wat in die derde gebod gebruik word: Jy mag die Naam van Yahweh jou Elohim nie bring tot ydelheid (“shuh”) nie.  Hulle wat die Vader se Naam tot niks maak (of: vernietig) begryp nie werklik wat sy geregtigheid behels nie. 

3.      Teh 40:9-10: Sy geregtigheid is so ongehoord en ongekend dat ‘n mens nie daaroor kan stilbly nie.  Letterlik staan hier: ‘n mens kan dit nie toemaak / bedek nie.  Die interessante is dat die Hebreeuse woord “kasah” (= “to cover with fat”) die idee oordra dat as jy stilbly en stilsit nadat jy Yahweh se geregtigheid leer ken het, is dit soos iemand wat vet word / gewig aansit omdat hy sy liggaam nie gereeld oefening gee nie. 

4.      Teh 89:16-17 (Eng. 15-16): Sy geregtigheid word gevier / besing wanneer gelowiges saamkom om die vasgestelde feeste te vier.  Die volk “wat die geklank ken” (the people that know the joyful sound) is diegene wat Yahweh se feeste ernstig opneem.  Die “geklank” waarvan daar hier gepraat word is die geklank van die trompet / shofar (“teruah”) wat geblaas word om een van hierdie feeste aan te kondig. 

5.      Teh 98:2-3: Sy geregtigheid is nie beperk tot een nasie of een land nie - mense tot aan die eindes van die aarde sal dit sien en dit beleef en niemand sal kan sê dat hy / sy onregverdig behandel is nie.  Hierdie geregtigheid wat geopenbaar word (“galah” = to reveal by removing the cover or the veil), is enersyds gemik op die huis van Yisrael, maar op ‘n verrassende, verborge manier sluit dit ook die eindes van die aarde in. 

6.      Teh 103:17-18: Sy geregtigheid is onlosmaaklik gekoppel aan die voorwaarde om Hom te vrees, sy verbond te hou, sy bevele te oordink en dit te gehoorsaam.  Die woord wat hier met “bevele” vertaal word, kom van die Hebreeuse woord “paqad” wat beteken: “to visit, to look after, to care for”.  Een van die redes waarom Yahweh aan sy volk sekere bevele gegee het, is omdat Hy wou uitreik na hulle en waarlik vir hulle omgee. 

7.      Teh 119:40: Sy geregtigheid, wat opgesluit lê in sy bevele (“paqad”), is die enigste waarborg wat ons het dat ons sal lewe (“chayah” = to live, to revive, to quicken, to restore).  Hulle wat nie ‘n begeerte het om hierdie geregtigheid met alles tot hulle beskikking te soek en na te jaag nie, is besig met ‘n gevaarlike dobbelspel waarin hulle die grootste beloning denkbaar, naamlik die LEWE self, kan misloop.