Is Hoofbedekkings Vandag Nog Nodig?
Die belangrike beginsel wat in 1 Kor 11 na vore kom is dat wanneer ons in aanbidding voor Yahweh verskyn (d.w.s. wanneer ons sy lof besing, wanneer ons tot Hom bid, of wanneer ons in die samekoms van gelowiges sy Woord aanhoor of sy Woord verkondig) ons ons eie “eer” op die agtergrond sal stel deur dit te bedek, sodat (slegs) die eer van ons Vader op die voorgrond sal wees. Hierdie beginsel geld vir die man, sowel as die vrou. Dit is egter belangrik dat ons daarop sal let dat daar ‘n duidelike onderskeid getref word tussen die “eer” van die man en die “eer” van die vrou. Die “eer” van die man (wat bedek moet word), is iets anders as die eer van die vrou (wat ook bedek moet word).
Die rede waarom daar ‘n onderskeid getref word tussen die “eer” van die man en die “eer” van die vrou, is omdat daar binne Yahweh se skeppingsorde ‘n orde bestaan wat ons moet ken en eerbiedig. Yahweh is die hoof van Yahshua, Yahshua die hoof van die man, en die man die hoof van die vrou (vers 3). Die eer van Yahweh is Yahshua (Heb 1:3 sê Yahshua is die afskynsel van Yahweh se heerlikheid). Yahshua is egter ook die hoof van die man. Die gedagte van “hoof” in die sin van “outoriteit” en “hoof” in die sin van “kop” word in hierdie hoofstuk aan mekaar gekoppel. Daarom staan daar in vers 4: “Elke man wat bid of profeteer met iets op sy hoof (kop), doen sy hoof (Yahshua) oneer aan” en in vers 5: “maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof (kop), doen haar hoof (haar man) oneer aan; want dit is een en dieselfde asof haar hoof (kop) geskeer is.” Omdat Yahshua die eer van Yahweh is, moet Yahshua op die voorgrond tree wanneer gelowiges saamkom om te aanbid. Omdat Yahshua die hoof (outoriteit) van die man is en deur die hoof (kop) van die man verteenwoordig word, mag die man se hoof (kop) nie bedek word wanneer hy aanbid nie (vers 4 en 7), want dit sou beteken dat Yahshua (die eer van Yahweh) bedek word.
Ons sou ook kon sê die eer van Yahshua is die man (vers 7) en omdat die eer van Yahshua nie bedek behoort te word nie, behoort die man nie bedek te wees as hy aanbid nie. Wie of wat is dan die eer van die man? Vers 7 stel dit onomwonde dat die man se eer is die vou (“maar die vrou is die heerlikheid van die man”). Moet die man se eer bedek word wanneer die gelowiges saamkom om te aanbid? Ja, dit moet, want die eer van Yahweh, dit wil sê Yahshua, moet alleen sigbaar wees. Daarom moet die vrou haar hoof bedek wanneer die gelowiges saamkom om te aanbid. Die eer van die man (naamlik die vrou) mag nie op die voorgrond wees nie.
Wie of wat is die eer van die vrou? Vers 15 sê dat die vrou se (lang) hare haar eer is. “Lang” hare dui hier nie op ‘n sekere lengte nie, maar is bloot die teenoorgestelde van “afgeskeerde” hare (waarvan in vers 5 en 6 gepraat word). Dus is die vrou se eer haar hare. Moet haar eer bedek word wanneer sy in aanbidding voor Yahweh verskyn? Ja, dit moet, want Yahshua (alleen) moet uitgestraal word - daarom is dit reg dat die vrou haar hoof bedek in die byeenkomste van gelowiges. Wat van ongetroude vrouens? Ook hulle behoort hulle hoofde te bedek, want hulle eer (naamlik hulle hare) behoort nie op die voorgrond te wees nie. Dit is slegs Yahshua, as die eer van Yahweh, wat raakgesien en beklemtoon behoort te word. Wat van ongetroude mans? Mag hulle maar ‘n bedekking op hulle hoofde aanbring wanneer hulle bid of profeteer? Nee, want dit sou ‘n bedekking en dus oneer bring oor hulle hoof, naamlik Yahshua.
Is die vrou se (lang) hare nie genoegsame bedekking wanneer sy voor Yahweh verskyn nie? Nie volgens die beginsels wat in 1 Kor 11 neergelê word nie. Die vrou se hare word nie as bedekking in dieselfde sin as die hoofbedekking waarvan vers 4-7 praat, gesien nie (die woord “bedekking” in vers 15 kom van ‘n ander Griekse woord as “bedek” in vers 4-7). Haar hare word as haar eer beskou en haar eer mag nie “vertoon” word wanneer sy voor Yahweh verskyn nie. Haar hoof (en hare) moet bedek word om uitdrukking te gee daaraan dat sy haar onderwerp aan die hoofskap en outoriteit van die man. As haar hoof nie bedek is nie, behoort sy eintlik ook haar hare af te sny (vers 6), want haar eer (naamlik haar hare) mag nie op die voorgrond wees nie.
‘n Vraag wat uit bogenoemde na vore kom, is die volgende: Wat presies word met “eer” of “heerlikheid” bedoel binne hierdie konteks van hoofbedekkings? Met ander woorde: Wat het hoofbedekkings met eer te make? Om ‘n antwoord op hierdie vraag te kry, kan ons nie anders as om die Skrif in sy geheel te raadpleeg nie. Die interessante is dat daar ‘n woord in die tanach (Ou Testament) voorkom wat beide met “eer” en met “hoofbedekking” te make het, naamlik die Hebreeuse woord “pe’ehr”. Dit is heel waarskynlik dat Sha’ul in 1 Kor 11 dieselfde woord in gedagte gehad het. Hierdie woord beteken “head-dress, ornament, turban” en is afgelei van die Hebreeuse woord “pa’ar” wat beteken: “to gleam, to boast, to beautify, to make oneself clear”.
In Shemoth / Eksodus 39:28 word “pe’ehr” gebruik om die ornamentele hoofbedekking van die Hoëpriester aan te dui wat eer en aansien aan hom verleen het. Ons hoëpriester is Yahshua. Aan Hom alleen kom alle eer en heerlikheid toe. Joh 1:14 stel dit so: “ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom--vol van genade en waarheid”. Hy het nooit sy eie eer gesoek nie, maar die eer van sy Vader wat Hom gestuur het en dit duidelik gestel dat ons ook nie ons eie eer moet soek nie (Joh 7:18), maar slegs sy eer en die eer van sy Vader (vgl. Rom 14:8).
In Yeshayahu / Jesaja 3:20 is die hoofversiersel (die “pe’ehr”) een van die dinge wat Yahweh sê Hy gaan wegneem, as gevolg van die hoogmoed en die trots en die sonde van die volk. Wat Hy graag by mans en vrouens wil sien is ‘n bedekking (covering) wat nie hulle eie skoonheid ten toon stel nie, maar die skoonheid en geregtigheid van sy Seun, Yahshua. Dit is waarvan Efes 4:24 praat: “julle moet julle met die nuwe mens beklee wat na Elohim geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” Die enigste geregtigheid wat ons bedek en versier is die geregtigheid wat Yahshua vir ons verwerf het.
Die gedagte van om jou te bedek of te beklee met Yahweh se geregtigheid kom ook in Yeshayahu / Jesaja 61:10 na vore: “Ek is baie bly in Yahweh, my siel juig in my Elohim; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel - soos 'n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos 'n bruid wat haar versier met haar juwele.” Hierdie hoofstuk het ‘n sterk Messiaanse inslag en begin met die woorde wat Yahshua in Luk 4:18-19 op Homself van toepassing gemaak het. In Jes 61:3 word onder meer gesê dat die Messias “sieraad (pe’ehr) in die plek van as” (Eng: “beauty for ashes”) sal gee. Hy sal met ander woorde die “bedekking” van rou (naamlik as) van ons hoofde afhaal en in die plek daarvan ‘n bedekking van lof gee. Die hele konteks van Yeshayahu 61 bevestig dat hierdie nuwe hoofbedekking nie deur ons eie toedoen aangebring sal word nie, maar slegs deur die onverdiende guns van Hom wat deur Yahweh gesalf is (vers 1 - dieselfde woord waarvan “messias” afgelei is). Ons bedekking moet dus sodanig wees dat dit nie onsself “versier” of verheerlik nie, maar die Messias wat ons verlossing moontlik gemaak het.
Ten slotte, net ‘n paar gedagtes oor Yechezkel / Esegiël 24:23 waar daar gepraat word van ‘n tyd wanneer mans ‘n hoofdoek (pe’ehr) op hulle koppe sal hê. Watter tyd is dit? Die konteks dui aan dat dit ‘n tyd van rou sal wees oor ‘n oordeel wat Yahweh oor sy volk gaan bring. In hierdie tyd sal hulle ook nie brood eet nie (d.w.s. hulle sal vas) en hulle baarde as ‘n teken van rou afskeer (vers 22). Al word hulle nie toegelaat om te rouklaag of te ween nie (vers 23), sal dit ‘n tyd wees waarin hulle wegteer en sug, omdat Yahweh “die lus van hulle oë” (die tempel) en die “verlange van hulle siel” (hulle seuns en dogters) van hulle af sal wegneem (vers 21,25). Die verbysterende van hierdie hoofstuk is egter dat die profeet Yechezkel as ‘n sinnebeeld of ‘n voorbeeld, die straf van Yahweh heel eerste aan sy eie lyf moes voel. Hy moes die lus van sy oë (sy eie vrou) letterlik aan die dood afstaan en dieselfde handelinge uitvoer wat die volk later sou uitvoer nadat Yahweh die tempel sou vernietig (vers 16-18). Net so sou Yahweh later die lus van sy oë (Yahshua) laat sterf om te wys wat sal gebeur met diegene wat aan Hom ongehoorsaam is. Wat van jou en my wat ons met Yahshua beklee het - moet ons soos die profeet en sy volk ‘n hoofdoek op ons koppe plaas? Vir die mans is die antwoord NEE, want Yahshua is ons hoof en ons bedekking. Vir die vrouens is die antwoord JA, want in elke plek van aanbidding word die fokus verskuif van die vrou as die “lus van die oë” van die mans na die Messias as die “lus van die oë” van beide die mans en die vrouens. So berei ons ons voor vir daardie dag wanneer Yahweh “alles in almal” sal wees.