DEUR KOMPROMIEË KOM PROBLEME!

In ons ondersoek na die betekenis van wysheid het ons onder meer stilgestaan by Yaakov (Jakobus) 3:17 "Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, toegeeflik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins." Vroeër in dieselfde hoofstuk (3:11-13) lees ons hierdie woorde: "'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie? 'n Vyeboom, my broeders, kan tog nie olywe voortbring, of 'n wingerdstok vye nie? So kan geen fontein brak en vars water voortbring nie. Wie is wys en verstandig onder julle?" Hier sien ons duidelik dat wysheid onder meer ook daarin geleë is dat 'n gelowige nie kompromieë moet aangaan nie - nie moet probeer om "vars" en "bitter" water uit dieselfde bron te laat vloei nie.

Daar word vertel van die soldaat wat aan 'n burgeroorlog moes deelneem, maar nie geweet het aan wie se kant hy moes veg nie. Die twee groepe wat teen mekaar geveg het, het verskillende tipes uniform gedra - die een groep blou en die ander groep kakie. Die onseker soldaat het toe maar 'n blou hemp en 'n kakie broek aangetrek en na die slagveld gegaan. Dit was nie lank voordat die onseker soldaat in die stryd gesneuwel het nie. Daar is vasgestel dat hy tegelykertyd deur geweervuur van teenoorgestelde kante af getref is.

Een woordeboek gee die definisie van "compromise" as volg: "Adjustment of conflicting convictions, by modification of each". Die oogmerk met kompromie is dikwels om konflik uit te skakel, om wrywing en ongerief en swaarkry te vermy. Maar nege uit tien keer is die resultaat dat iemand sy beginsels moet prysgee of die waarheid waarin hy met sy hele hart glo, op die agtergrond moet skuif. In die proses word mense se definisie van "reg en verkeerd" al hoe groter en lomper en wasiger en die fondasie waarop hulle hulle lewe bou, al hoe sanderiger en wankelriger.

Daar is talle voorbeelde in die Skrif waar kompromieë tot verlies en skade en selfs die dood gelei het. Adam en Eva het (deur die aanstigting van Satan) in hulle harte 'n kompromie aangegaan ten opsigte van die duidelike verbod teen die eet van die boom van die kennis van goed en kwaad. Die gevolge hiervan is vandag nog met ons. Esau het 'n kompromie met sy broer Yaakov aangegaan en sy eersgeboortereg verloor. Aharon (Aäron) het met die goue kalf wat hy vir die volk laat maak het, 'n kompromie aangegaan deur die Egiptiese manier van aanbidding te vermeng met die ware aanbidding van Yahweh. Shimshon (Simson) het 'n kompromie met Delila aangegaan en uiteindelik sy krag verloor. Meeste van die konings van Yisrael het 'n kompromie probeer tref tussen die ware geloof wat deur geslagte heen aan die volk oorgelewer is en die afgodsdiens van die heidennasies rondom - met vernietigende gevolge vir die hele volk. Ananias en Saffira het 'n kompromie probeer uitdink in die manier waarop hulle hulle geldelike bydraes in die Handelinge gemeente hanteer het ... en so kan 'n mens aangaan. Kom ons kyk na 'n aantal duidelike uitsprake hieroor in die Skrif.

1. Shemot (Eks) 23:2 Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie.

2. Devariem (Deut) 18:9 Moenie die gebruike van hierdie wêreld navolg nie.

3. Tehilliem (Ps) 51:10 Bid vir 'n rein hart en 'n vaste gees.

4. Markus 6:20 Wat het vir Herodus bang gemaak vir Johannes die Doper?

5. Yahuganan (Joh) 15:19; 17:14 Ten diepste is ons nie van hierdie wêreld nie.

6. Hand 4:19 Meer gehoorsaam aan Yahweh as aan mense

7. Romeine 12:2 Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie.

8. 2 Kor 6:15 Moenie in dieselfde juk trek met ongelowiges nie.

9. Yaakov (Jak) 4:4 Vriendskap met die wêreld is vyandskap teenoor Yahweh.

10. 1 Kefa (Pet) 4:2 Nie die begeertes van mense nie, maar die wil van Yahweh.

THE WORLD NEEDS MEN …

...who cannot be bought;

...whose word is their bond;

...who put character above wealth;

...who are larger than their vocations;

...who do not hesitate to take chances;

...who will not lose their identity in a crowd;

...who will be as honest in small things as in great things;

...who will make no COMPROMISE with wrong;

...whose ambitions are not confined to their own selfish desires;

...who will not say they do it "because everybody else does it;"

...who are true to their friends through good report and evil report, in adversity as well as in prosperity;

...who do not believe that shrewdness and cunning are the best qualities for winning success;

...who are not ashamed to stand for the truth when it is unpopular;

...who can say "no" with emphasis, although the rest of the world says "yes."

Father, make me this kind of man.