HOE KAN EK YAHWEH LIEFHÊ MET MY HELE HART EN SIEL?

Die hele boodskap van die Skrif kan met een woord saamgevat word: LIEFDE.   Yahweh se liefde vir sy volk – wat Hy alles gedoen het om daardie liefde te bewys – hoe hulle sy liefde teen die grond vertrap het – Hoe Yahweh soos ‘n liefdevolle Vader teenoor sy ongehoorsame kinders en soos ‘n onselfsugtige en geduldige bruidegom teenoor sy ontroue bruid male sonder tal uit liefde teruggegryp het na sy volk wat aanhoudend van Hom af weggebeur het, ‘n verbond met hulle aangegaan het, beloftes aan hulle gemaak het, sy verbond weer en weer hernu en bevestig het, nog meer beloftes aan hulle gemaak het, sy liefde weer aan hulle verklaar het – net om Hom telkens weer vas te loop teen die weerbarstigheid en die hardkoppigheid en die ongehoorsaamheid van sy volk.   

Natuurlik moes hulle die gevolge dra van hulle ongehoorsaamheid – by tye is daar duisende selfs miljoene van hulle wat in ballingskap gegaan het en selfs met hulle lewens moes boet a.g.v. hulle ongehoorsaamheid – as volk is hulle uit mekaar uit geskeur en verstrooi oor die hele aarde – baie van hulle het hulle identiteit as Jode oor die eeue geheel en al verloor – dit wat vir hulle die heel kosbaarste was het hulle verloor a.g.v. hulle ongehoorsaamheid: hulle tempel, hulle priesters, hulle profete, selfs hulle geliefde stad Jerusalem behoort vandag nie meer heeltemal aan hulle nie...

Maar Yahweh se liefde vir sy volk het nooit opgehou nie – Hy voel so sterk oor hulle redding en hulle behoud dat Hy bereid is om sy eie Seun te stuur om in die gestalte van ‘n mens, ja van ‘n dienskneg, die vernederendste dood denkbaar te sterf ter wille van sy volk – En in sy oneindige liefde maak Hy die deur oop vir die nasies om ook sy liefde te proe – om ook deel te word van sy verbond met sy volk – om ook toegang te kry tot die geestelike burgerskap van Israel – om saam met hulle dieselfde hemelse erfenis te verwag – om saam met hulle in dieselfde beloftes en dieselfde voorregte en dieselfde gepaardgaande verantwoordelikhede te deel – om die innerlike werking van sy Gees te smaak – en die manifestasie van sy groot krag in hulle eie lewens te ervaar – en so kan ‘n mens net aangaan en aangaan: Die hele Skrif is ‘n beskrywing van hierdie allesoortreffende liefde van Yahweh.

Ons kan dit so stel: Die allesoortreffende liefde van Yahweh beslaan omtrent driekwart van die Skrif.  Wat sou die ander kwart dan wees?     Dit is om vir my en vir jou te sê wat dit beteken om hierdie liefde van Yahweh te beantwoord – wat dit beteken om Hom lief te hê met ons hele hart en ons hele siel en met al ons krag en wat dit beteken om ons naaste lief te hê soos onsself.

Almal in die kerke vandag weet van hierdie boodskap van liefde – dit word gereeld op allerlei maniere verkondig – dit word miskien nie altyd so Skrifgetrou verkondig nie, maar dit word verkondig – partykeer word verkondig jy moet jou naaste liefhê, maar in dieselfde asem gesê ons moet tog nie homoseksuele mense verwerp nie.  Maak nie saak dat die Woord sê   “As ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het soos ’n mens met ’n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle”.  (Lev 20:13)

Partykeer word verkondig jy moet jou naaste liefhê, maar in dieselfde asem word gesê as jy ‘n ongewenste swangerskap het of jy is nie seker of jy vir die baba sal kan sorg nie, raak dan liewer vroegtydig van die ongebore baba ontslae.    Maak nie saak dat die Woord sê   “As jy ’n swanger vrou so stamp dat haar vrug afgaan ... en daar is ‘n letsel ... dan moet jy gee lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet,  brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek.”  (Eks 21:22)

Partykeer word liefde tot die naaste verhef tot die alfa en die omega en word daar vergeet dat Yahshua gesê het die eerste en die grootste gebod is jy moet Yahweh lief hê met jou hele hart en jou hele siel en al jou krag.    Dis wáár dat egbreuk en moord pleeg en steel en lieg en begeer teen die gebod van Yahweh is, maar wat van afgodediens?     Wat van Kol 3:5 wat sê dat gierigheid afgodediens is?    Wat van 1 Samuel 15:23 wat sê dat wederstrewigheid en rebellie en eiesinnnigheid afgodediens is?     Wat van die Naam van Yahweh wat ydellik gebruik of vervals word soos Deut 5 dit stel?     Om “Yahweh” te vervang met “Here” is niks anders nie as ‘n vervalsing van sy Naam!  Is dit minder in stryd met sy gebod as om te moor en te steel en te lieg?  Dit help nie ek sê Yahweh ken my hart – Hy sal nie omgee as ek Hom “Here” noem nie – as ek nie bereid is om sy hart te hoor en te aanvaar dat Hy nie wil hê dat ek sy Naam moet vervals nie!

Wat van die vierde gebod wat sê dat ons die sabbat moet hou - dat ons die sewende dag moet heilig – dat ons nie moet werk op daardie dag nie – dat ons nie ons gewone gang moet gaan op daardie dag nie – dat ons nie moet koop en verkoop op daardie dag nie -- dat ons nie moet kos kook op daardie dag nie.     Dis radikaal, dis drasties!    Ek wil so ver gaan om te sê dis onmoontlik om dit met vreugde en met ‘n blymoedige hart te doen as Yahweh nie eers deur sy Gees gekom het en ons harte verander het nie.    

Dis wat die nuwe verbond beteken:   Yahweh wat vir jou en vir my kom sê “Ek wil jou Elohim wees en jy moet deel van my volk wees”.     En ek en jy wat vir Hom antwoord:     “Ja, Vader, ons wil deel van u volk wees, en ons erken U volledig as ons Elohim – ons is bereid om te doen wat U van ons vra”  Maar dan kom Hy nie net en Hy gooi ons toe met ‘n klomp wette nie.      Nee, Hy vul ons harte met sy Gees.      Hy skryf sy wette op die tafels van ons hart.        Hy wek self in ons die begeerte op om sy torah (sy volmaakte lering) te gehoorsaam.    Maar as jy nog nie die “commitment” gemaak het om deel te word van sy volk nie, om deel te word van die nageslag van Abraham nie, om deel te word van sy ewige verbond en saam met Israel medeburger van sy koninkryk te word nie, gaan jy nie die begeerte hê om sy wet te gehoorsaam nie.    

En as jy gaan terugkruip in die ou verbond en met tandekners en die mees intense inspanning van jou eie wil en jou eie selfbeheersing sy wette probeer gehoorsaam, gaan jy nie die pas kan volhou nie.  Maar as jy Yahshua as jou Verlosser en jou Koning aanvaar en bereid is om Hom op sy voorwaardes te volg en nie op jou eie voorwaardes nie, kan ek jou die versekering gee:    Daar wag ‘n opwindende pad vir jou.    En die mees opwindende deel hiervan is wanneer Yahweh sy Gees in ons harte uitstort en iets in jou wakkermaak wat geen mens of geen aardse ervaring in jou kan wakkermaak nie.

Ek wil jou uitnooi om weer ‘n slaggie na te dink oor die onbeskryflike liefde van Yahweh.  Ek wil jou uitnooi om die Skrif weer ‘n slaggie te bestudeer en net toe te laat dat hierdie volmaakte liefde jou hele hart en jou hele siel en al jou kragte “deurweek” en aanraak.  En dan wil ek jou weer ‘n slag uitnooi om op te kyk in die aangesig van die Een wat jou so liefhet en om te reageer op hierdie liefde wat Hy oor en oor aan jou bevestig en bewys het.    Wil jy nie vandag ‘n besluit neem wat jou hele lewe kan verander nie?     Dalk het jy nog nooit regtig hierdie besluit geneem nie.    Dalk het jy al so ‘n besluit geneem, maar intussen het daar iets in jou lewe ingekom wat die werking van die Gees in jou lewe belemmer of selfs vernietig het.    Dan wil ek jou juis uitnooi om hierdie besluit opnuut te neem, naamlik:    “Abba Vader, u liefde is vir my oorweldigend.   Daarom besluit ek vandag om U lief te hê met my hele hart en met my hele siel en met al my krag en te doen wat hierdie liefde van my vra”.