DIE REGTE
VERSTAAN VAN DIE KERK EN DIE NUWE VERBOND
Die begrippe
"kerk" en "nuwe verbond" word vandag deur mense en groepe regoor die wêreld
gebruik as aanduiding van die sogenaamde "nuwe" geloof wat ons Messias 2000 jaar
tot stand gebring het. Almal heg egter nie altyd dieselfde konnotasie aan
hierdie begrippe nie. Die rede hiervoor is dat almal se verstaan van hierdie
begrippe nie ooreenstem met die Woord se verstaan daarvan nie. Om te verstaan
wat die Skrif vir ons leer oor die begrip "kerk" is dit nodig om duidelikheid te
kry oor die betekenis van die volgende woorde soos dit deur die Skrif gebruik
word: "Kerk" of "Gemeente" en "Israel". Eers nadat die betekenis van hierdie
begrippe heeltemal uitgeklaar is, kan ons probeer om vas te stel wat werklik met
die "nuwe verbond" bedoel word en wie almal daarby ingesluit is.
Die
populêre verstaan van die woorde "Israel" en "kerk" en "nuwe verbond".
Meeste mense
verstaan onder "Israel" die Joodse volk - almal wat van Joodse oorsprong is. Die
"kerk", volgens die verstaan van talle, is die groep mense wat glo in Yahshua as
die Messias (hoofsaaklik nie-Jode wat as "christene" bekend staan). Die "kerk" -
so glo hierdie mense - het na die dood, opstanding en hemelvaart van die Messias
tot stand gekom toe Petrus in Handelinge 2 sy bekende Pinksterboodskap gebring
het en 3000 mense tot inkeer gekom het. Die "nuwe verbond" word normaalweg
gesien as die verbond wat die Vader met 'n "nuwe" groep mense aangegaan het (Jode
sowel as nie-Jode wat tot geloof in die Messias gekom het) en met "nuwe"
voorwaardes wat daarmee saamgaan (ons staan onder die genade en word gelei deur
die Gees, in plaas van onderhouding van die wet). Die sg. "Replacement Theology"
is die skool van denke wat sê dat die "kerk" van die Nuwe Testament in die oë
van die Vader die plek ingeneem het wat die volk Israel in die Ou Testament
beklee het - Israel is met ander woorde "vervang" ("replaced") met die kerk.
Waar kom die begrip "kerk" vandaan?
-
Die woord "kerk" kom nie in die oorspronklike tale van die Skrif voor nie en
is 'n onakkurate vertaling van die Griekse "ekklesia" en die Hebreeuse "qahal".
"Ekklesia" is die Griekse woord wat deurgaans in die Nuwe Testament gebruik
word en wat normaalweg met "kerk" of "gemeente" of "church" vertaal word. Die
woord beteken letterlik "hulle wat uitgeroep is" (the assembly of the
called-out ones) en dit is duidelik dat "ekklesia" 'n poging is om die
Hebreeuse woord "qahal" so getrou as moontlik te vertaal. "Qahal" is afgelei
van 'n stamwoord wat beteken "om bymekaar te roep vir 'n spesiale doel". Die
gedagte is dat Yahweh vir Hom 'n volk afgesonder het of bymekaar geroep het om
heilig te lewe, dit wil sê "anders" as die ander volkere wat hulle omring het.
-
Ons weet dat die Griekse begrip "ekklesia" 'n voortsetting is van die
Hebreeuse begrip "qahal" want in Handelinge 7:38 praat Stefanus van die "gemeente"
of die "vergadering" wat tydens die uittog in die woestyn bymekaar gekom het,
en die woord wat met "vergadering" vertaal word is dieselfde woord ("ekklesia")
wat in die res van die Nuwe Testament met "gemeente" of "kerk" vertaal word.
Hand 7:38 is 'n duidelike verwysing na Deut 18:15,16 waar daar na die dag
waarop die volk die wet en die verbond by Sinai ontvang het verwys word as
"die dag van die vergadering" ("qahal"). Dieselfde begrip, "die dag van
die vergadering" kom op twee ander plekke in Deuteronomium net so voor, nl. in
Deut 9:10 en 10:4 en in beide gevalle verwys dit na dieselfde dag - die eerste
Pinksterfees na die uittog uit Egipte en die dag waarop Yahweh sy verbond met
die volk gesluit het.
-
Dit is nie presies seker waar die woord "kerk" of "church" vandaan kom nie.
Een moontlikheid is dat dit kom van die Anglo-saksiese woord "circe" wat die
Griekse godin was wat mense in varke verander het! 'n Ander moontlikheid is
dat dit afgelei is van die Skotse woord "kirk", wat beteken 'n sirkel of 'n
ronde skyf en dat dit moontlik na die son verwys en dateer uit die tyd toe die
aanbidding van die son nog 'n groot rol in die lewens van talle nuwe
bekeerlinge gespeel het. 'n Derde moontlikheid is dat die woord verband hou
met die Latynse "kuriake" wat iets kan beteken soos "hulle wat aan die 'kurios'
behoort". "Kurios" is 'n heerser of 'n meester of 'n baas en is 'n woord wat
in die Nuwe Testament onder meer as 'n beskrywende titel van die Messias
gebruik word.
Wie is
Israel volgens die Skrif?
- Om
te sê dat Israel die Joodse volk is,
is net 'n gedeelte van die waarheid wat deur die Skrif geleer word. Die Skrif
leer dat Yahweh 'n verbond met Abraham, die "vader" van fisiese Israel
aangegaan het, maar dat Abraham terselfdertyd die belofte ontvang het dat hy
"die vader van 'n menigte van nasies" sal word (Gen 17:4). Yahweh se plan met
die verbond was om vir Abraham (en sy nageslag) te seën sodat hy tot 'n seën
kon wees en "al die geslagte van die aarde" in hom geseën kon word (Gen
12:2,3). Wanneer Paulus in die Nuwe Testament oor Israel praat, gebruik hy
dikwels 'n ruimer definisie van Israel as wat die meeste Jode graag sou wou
hoor. So byvoorbeeld sê hy in Rom 9:6: "Hulle is nie almal Israel wat uit
Israel is nie"; vers 7: "Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle
almal kinders nie"; vers 8: "nie hulle is kinders van Elohim wat die kinders
van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte..." en in Gal 3:7: "Julle
verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham" en
Gal 3:29: "En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van
Abraham en volgens die belofte erfgename."
-
Paulus se bedoeling is nie dat die Nuwe Testamentiese gelowiges eenvoudig die
volk Israel vervang het nie. In Rom 11:1 vra hy die vraag: "Het Elohim miskien
sy volk verstoot?" waarop hy self die antwoord gee: "Nee, stellig (of beslis)
nie!" Wat het dan verander met die Messias se koms na hierdie wêreld? Rom 11
gee vir ons die antwoord in die vorm van 'n gelykenis: Fisiese Israel is die
mak olyfboom en al die ander nasies is wilde olyfbome (vers 17). Sommige van
die takke van die mak olyfboom word afgebreek omdat hulle geval het en nie in
die Messias geglo het nie (ongelowige Jode), maar sommige takke van die wilde
olyfbome word op die mak olyfboom ineënt (gelowige nie-Jode) en kry deel aan
die wortel en die vettigheid van die mak olyfboom (vers 17). Daar is geen nuwe
godsdiens of nuwe geloof of nuwe verlossingsplan wat neergelê word nie. Daar
is ook geen rede vir nie-Joodse gelowiges om arrogant teenoor ongelowige Jode
te wees nie - dis immers "nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir
jou" (vers 18). Verder moet ons oppas dat ons nie ook val soos die takke wat
afgekap is nie (vers 22) en moet ons ons daarvoor beywer dat die oorspronklike
takke wat afgebreek is, weer op die olyfboom ingeënt word (vers 23 en 24),
want dit is die Vader se hart.
-
Die engel in Luk 1 het die geboorte van die Messias aangekondig met die woorde:
"Hy sal Koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid". Die huis van
Jakob is die 12 stamme van Israel. Dit is met die huis van Jakob dat Yahweh op
"die dag van die vergadering" sy verbond of spesiale verbintenis by Sinai
aangegaan het (vgl. Eks 19:3). Dis die huis van Jakob wat in die Ou Testament
dikwels die "qahal" van Yahweh genoem word (so bv. Lev 16:33; Num 16:3; Deut
23:1; Rigters 20:2; Ps 89:5; ens.). En die verbond wat in die Ou Testament met
die huis van Israel aangegaan is (en telkens hernu is) was 'n ewige verbond,
m.a.w. 'n verbond wat nooit beëindig (maar wel hernu) sou word (vgl. Gen 17:7;
Rigters 2:1; 2 Sam 23:5; 1 Kron 16:17; Ps 105:8-10; Eseg 16:60; ens).
-
Die nuwe verbond waarvan onder meer in Jer 31:31-34 en in Eseg 36:24-27
geskryf word en in Heb 8:8-13 bevestig word, is 'n hernuwing van dieselfde
verbond Die volmaaktheid van die offer het verander (een volkome offer in
plaas van herhaalde offers - Heb 9:26); die doeltreffendheid van die
priesterskap het verander (een ewige Hoepriester in plaas van 'n sterflike
familielyn van priesters - Heb 7:23-28); daar het sekere beloftes bygekom (bv.
die belofte dat wette op die hart geskrywe sal word en die ongergetigheid van
die verlede vergewe sal word - Heb 8:10-12) - daarom word dit as 'n "beter
verbond" beskou (Heb 8:6). Die partye van die verbond bly egter dieselfde: Dit
is nog steeds Yahweh se verbond met sy volk Israel (saam met diegene wat op
die mak olyfboom ingeënt word). Die morele kode van die verbond bly ook
dieselfde. Yahweh bly staan by dit wat Hy reeds met die eerste sluiting van
die verbond aangedui het as reg en verkeerd in sy oë. Hy sê Hy sal sy wette (d.w.s.
dieselfde wette as voorheen) in hulle verstand gee en op hulle hart skrywe.
Samevattend:
-
Die "ekklesia" in die Nuwe Testament is 'n voortsetting van die "qahal" van
die Ou Testament. Daar is 'n verruiming en 'n vernuwing en 'n verdieping, maar
nie 'n wesenlike verandering van die voorwaardes, die partye en die inhoud van
die verbond wat ter sprake is nie.
-
Die Messias het die aand voor sy dood tydens die pasgamaaltyd die "nuwe
verbond" bekend gestel en dit met sy bloed in verband gebring. Die sleutel vir
deelname aan die nuwe verbond lê opgesluit in die bloed van Yahshua: diegene
wat waarlik glo dat sy bloed 'n volkome versoening vir hulle sondes is, kan op
die mak olyfboom ingeënt of teruggeënt word en deel kry aan al die voorregte
van die verbond.
-
Die werking van die Gees in ons lewens stel ons in staat om die voorwaardes
van die verbond na te kom en wek in ons 'n begeerte om te doen wat die vader
van ons vra.
