DIE PAD VAN GELOOF

 

1.                  Om die ewige lewe te ontvang, moet mens glo in die Messias (Joh 3:36)

2.                  Wat beteken dit om te glo?   Glo dat Yahshua bestaan en is wie Hy sê Hy is?  Joh 5:45 (Moses) – Om in iemand te glo is om sy woorde te glo en dit in jou eie lewe van toepassing te maak (die Fariseërs het gedink hulle glo Moses, maar hulle optrede en hulle gesindheid jeens die woorde wat Moses gespreek het, het die teendeel bewys).

3.                  Geloof sonder werke is nie geloof nie - Jak 2:17-20 – Geloof word bewys deur werke — Geen werke, geen geloof (Jak 2:21-24) – Geen gehoorsaamheid, geen geloof (Abraham).

4.                  Gehoorsaamheid aan wat?  Sy gebooie, opdragte (Matt 22:35-40) – Onthou Yahshua se woorde verskil op geen manier van Yahweh se woorde nie, trouens, Yahshua IS die Woord van Yahweh.  Yahweh se woorde word saamgevat in twee (hoof) gebooie: Liefde tot Yahweh en liefde tot naaste – dit is al: niks meer nie, niks minder nie...

5.                  Yahshua waarsku daarteen dat ons sommige gebooie hou en ander (wat belangriker mag wees) nalaat – Matt 23:23 – L.W. “sonder om die ander na te laat” – is dit nie wat vandag gebeur nie?  Vandag is dit veral die liefde tot die naaste wat beklemtoon word, terwyl die liefde tot Yahweh (eerste vier gebooie) verwaarloos word.

6.                  L.W. Yahshua noem reg, barmhartigheid en trou “die swaarste van die wet” – meeste mense vandag noem dit die maklikste van die wet en die res (soos die meer praktiese aspekte) noem hulle die “swaarste” en los dit gewoonlik uit omdat hulle glo dit sal die wet “ondraaglik” maak – dalk moet ons begin by wat Yahshua “die maklikste” noem, sodat ons “die swaarste” kan doen soos Hy dit van ons vra (en nie soos ons dink dis reg nie).

7.                  Die Skrif stel dit egter duidelik dat die wet nie ondraaglik sal wees vir hulle wat bereid is om die pad van geloof voluit te stap nie (Ps 19:8; 1 Joh 5:3; Joh 14:15-17).

8.                  Die enigste manier om jou huis op die rots te bou is om na Yahshua se woorde te luister en dit te doen – Luk 6:46-49.

9.                  Baie mense sê hulle doen dit, maar hulle vrug wys dit nie – daar is nie vrug van gehoorsaamheid aan die woorde van Yahshua nie en ook nie vrug van gehoorsaamheid aan die gees en gesindheid van Yahshua nie – Gal 5:22-25 – L.W. “daar is geen wet teen hierdie dinge” (vers 23) –  sg. Geesvervulde Christene doen talle dinge waarteen die die wet pertinent is!

10.             Die groot vraag is of ons harte “onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kron 16:9) – moenie te gou sê “My hart is reg” nie – ons harte mislei ons dikwels (Jer 17:9).

11.             Dit kan selfs wees dat ons (of iemand anders) verblind is (Joh 9:40-41) – oppas egter om iemand te oordeel – ons kan nie in mense se harte inkyk nie – dit kan ook wees dat iemand verblind is omdat hy/sy deur ander mislei is – in so ‘n geval is daar iets wat gedoen kan word: GAAN WEG VAN DIE BLINDE LEIERS AF EN KEER TERUG NA YAHWEH! (Matt 15:13-14 en Jer 17:5)

12.             Dit is lewensbelangrik dat ons fondament reg sal wees en dat ons ons rug draai op enige praktyk wat nie in lyn is met die geregtigheid van Yahweh nie (2 Tim 2:19) – Die Vader het ‘n behae in sulke mense en is bereid om sy oordeel terug te hou as Hy sulke mense kan vind (Jer 5:1; Joh 4:23) – as ons Hom werklik met ons hele hart soek, sal ons Hom vind (Jer 29:13).