OP WATTER DAG BEHOORT PASGA (PESACH) GEVIER TE WORD?

 

Die tydsbepaling van “Pesach” is reeds eeue lank ‘n saak waaroor daar groot meningsverskille bestaan - soveel so dat dit in sommige gevalle tot jarelange stryd, selfs skeuring en verdagmaking gelei het.  Alhoewel ‘n mens begrip het daarvoor dat diegene wat ernstig voel oor die waarheid van die Skrif alles in hulle vermoë sal doen om die waarheid (soos hulle dit verstaan) te beskerm, is dit baie jammer dat mense se groot ywer vir die waarheid soms ‘n struikelblok word - juis vir diegene wat ernstig soek na die waarheid!  Dit was nooit die bedoeling met “Pesach” dat die argumente oor wanneer presies die feesmaal gehou moet, so oorheersend raak dat die Messias as ons “Pesach” (1 Kor 5:7) uit die oog verloor word nie.  Die bedoeling met hierdie studiestuk is derhalwe NIE om ‘n sekere siening af te dwing of om diegene wat anders dink onder verdenking te plaas nie.  Daar is genoeg van hierdie mentaliteit onder diegene wat hulleself as “ware gelowiges” bestempel en so ‘n benadering is gewoonlik nie baie verhelderend nie.  Boonop gaan dit hier oor ‘n saak wat nie so maklik is om volkome uit te klaar nie.  Die paragrawe wat volg is beslis nie bedoel om die finale woord oor hierdie onderwerp te wees nie.  As dit egter kan help om rus en klarigheid te bring in die gemoedere van diegene wat, soos ekself, baie lank geworstel het om die verskillende Skrifgedeeltes wat hieroor handel, bymekaar uit te bring en te versoen, sal ek baie dankbaar wees. 

Miskien sal daar diegene wees wat in die lig van bogenoemde wonder waarom dit dan nodig is om hoegenaamd ‘n studie oor hierdie saak aan te pak.  Maak dit regtig saak as die dag waarop ek Pesach vier, nie een honderd persent die “regte” dag is nie”?  Laat ons dit hier reg aan die begin baie duidelik stel: Natuurlik sal ons Vader dit nie teen iemand hou wat een van die feeste van Yahweh onbewustelik, in opregtheid van hart, op die verkeerde dag gehou het nie.  Dit beteken egter nie dat uitsluitsel oor die spesifieke dae waarop die feeste val, onbelangrik is nie.  Ons moet onthou dat die Skrif na die feeste as “mo’adim” (“vasgestelde tye”) verwys en dat Yahweh reeds by die skepping aangedui het het dat hierdie dae noukeurig ooreenkomstig die siklusse van die son en die maan bepaal moet word (vgl. Gen 1:14).  Verder is dit opvallend dat daar in die Skrif deurgaans spesifieke aanwysings gegee word oor presies wanneer elke fees gehou moet word (al is hierdie aanwysing as gevolg van verskeie redes nie altyd so maklik om te interpreteer nie).  ‘n Mens kan maar net na die geskiedenis van Jerobeam kyk, en na Yahweh se afkeer van sy (Jerobeam se) besluit om die tyd en plek van een van die feeste te verander, om te verstaan hoe sterk ons Vader daaroor voel dat ons sy feeste, so ver as moontlik, volgens die voorskrifte van sy Woord sal hou (vgl. 1 Kon 12:32-33; 1 Kon 15:34).  Die feeste is immers deur Yahweh uitgeroep, nie net sodat sy volk (en hulle wat hulle met Israel identifiseer) dit moet hou nie, maar ook omdat dit dae is wat Hy self gaan “hou” - in die sin dat Hy sal voortgaan om sy groot, toekomstige verlossingsdade op hierdie presiese dae te laat plaasvind - net soos met die offer van sy Seun op Pesach en die uitstorting van sy Gees op Shavuot. 

‘n Belangrike vertrekpunt in hierdie studie is dat Yahshua die Messias onomwonde verklaar het dat Hy gekom het om die wet en die profete te vervul en dat elke jota en tittel van die Torah reg tot aan die einde van die tyd in die fynste besonderhede uitgevoer sal word (Matt 5:17-19).  Hierdie woord plaas sy aardse lewe en sterwe vir ons binne die konteks van “vervulling van die wet”.  Alles wat Hy gesê en gedoen het, kan teen hierdie agtergrond verstaan word.  Daarom is daar meer as vyftig verwysings in die evangelies na die feit dat sekere dinge in die lewe van die Messias gebeur het sodat die Skrifte vervul of volbring kon word.  Dit geld natuurlik ook van sy dood aan die folterpaal op Golgota - daarom het Hyself kort voor sy dood uitgeroep “Dit is volbring!” (Joh 19:30).  Daarmee het Hy nie net bedoel dat Hy die doel van sy koms na hierdie wêreld vervul het nie, maar ook dat Hy met sy dood letterlik aan die vereistes en dieper betekenis van die Torah voldoen het.  In die lig daarvan dat die Skrif dit duidelik stel dat die dood van die Messias (as vervulling van die Torah) presies op die Pasga (Pesach) plaasgevind het (Matt 26:2; Mark 14:12; Luk 22:7; Joh 13:1; Joh 18:39; Joh 19:14; 1 Kor 5:7), kan ons ook seker wees dat sy teregstelling in dieselfde tydsgleuf plaasgevind het as waarop die res van die volk hulle lammers vir Pesach geslag het.  Daar is egter een belangrike verskil in die manier waarop die Messias en sy dissipels daardie laaste Pesach gevier het en die manier waarop die res van die Yehudim (Jode) dit gevier het.  Yahshua was verplig om die Pesachmaaltyd (wat uit die aard van die saak altyd NA die slagting van die lam moes plaasvind - vgl. Exod 12:8) hierdie keer op die aand VOOR die slagting van die lammers saam met sy dissipels te nuttig.  Hy het immers beter as enige iemand geweet hoe totaal anders daardie spesifieke Pesach sou wees - dat Hy as die Lam van Elohim self  “geslag” sou word en dat sy plek onder die dissipels die volgende aand leeg sou wees. 

Die grootste probleem rondom die tydsbepaling van Pesach gaan oor die vraag of die Pesachmaaltyd (ook genoem “seder” maaltyd) op die aand gehou moet word waarmee die 14 de Nisan (die maand “Nisan” word soms ook “Aviv” genoem) begin word of op die aand waarmee die 14 de Nisan afgesluit word.  Dit is die maaltyd en feesgedeelte van die Pesach wat vir ons veral van belang is, nie soseer die slagtingseremonie nie (omdat ons volmaakte Lam reeds geslag is, hoef ons nie vandag meer lammers te slag om ons sondes weg te neem of ons van die dood te red nie - vgl. Heb 9:12; 9:25-28; 10:10-12).  Ek glo egter dat daar redelike uitsluitsel oor die tydsbepaling van die fees/maaltyd van Pesach verkry kan word deur na die tydsbepaling van die dood van die Messias te kyk.  Ons weet dat die teregstelling van die Messias tussen die sesde en die negende uur, d.w.s. tussen 12 en 3 namiddag plaasgevind het (vgl. Matt 27:45; Mark 15:33).  Ons weet ook nou reeds dat hierdie dag die dag was wat as “Pesach” bekendgestaan het, dus moes dit die 14 de Aviv gewees het.  Hoe pas hierdie gegewens in by die besonderhede oor Pesach wat in die Torah verstrek word?

Deut 16:6 bepaal dat die Pesach op die vasgestelde dag (d.w.s. op die 14 de Aviv) “in die aand teen sononder” geslag moet word.  Die vraag is nou: Is hierdie tydsgleuf “in die aand, teen sononder” nie ‘n ander tydsgleuf as die een waarin die Messias tereggestel is nie (d.w.s. ongeveer 3 uur namiddag)?  Op die oog af lyk dit beslis of dit ‘n ander tydsgleuf is - tussen 3 uur die middag en sonsondergang die aand is daar immers ‘n groot verskil.  Ek meen egter dat daar vir ons nuwe lig oor hierdie saak sal opgaan as ons weer ‘n slaggie gaan kyk na die Hebreeuse woorde wat met “aand” en “sononder” vertaal word.  Die woord wat met “aand” vertaal word is “erev” wat kom van die Hebreeuse werkwoord “arab” wat beteken “to grow dark, to cover with a texture”.  Die woorde wat met “sononder” vertaal word is “bo shemesh” wat letterlik beteken “die weggaan / inkoms / daling van die son”.  Die uitdrukking in die Hebreeuse teks word voorafgegaan deur die woordjie “ki” wat normaalweg met “weens” of “terwyl” vertaal word.  Dit beteken dat die teks ook sou kon lees: “...jy moet die pasga slag in die deel van die dag wanneer dit donkerder word, terwyl (of: weens die feit dat) die son besig is om te sak.”  Baie vertalings (soos die American Standard, Darby, King James, World English Bible, The Scriptures, ens.) vertaal “ki bo shemesh” met “at the going down of the sun”.  Dit impliseer nie noodwendig die deel van die dag wanneer dit alreeds donker is nie en ek meen dat die bedoeling van hierdie teks is dat die “pesach” in daardie deel van die dag geslag moet word wanneer die son reeds sy “draaipunt” bereik het en begin het om te sak - die gedeelte van die dag wanneer ‘n mens met die blote oog kan waarneem dat dit besig is om geleidelik donkerder te word.  Sou dit dalk kon wees dat die middag ongeveer 3 uur as so ‘n tyd beskou word en dat dit die tyd is wanneer die “pesach” normaalweg geslag is?  Kom ons kyk na ander gedeeltes in die Torah en die kommentaar van sommige Skrifverklaarders oor hierdie gedeeltes.

Voordat ons die soeklig op ander gedeeltes in die Skrif laat val, is dit interessant om daarop te let dat die gedeelte wat direk volg op Deut 16:6 dit duidelik uitspel dat die oggend wat volg op die namiddag (of aand?) wanneer die pesach geslag word, die eerste oggend van die Fees van Ongesuurde Brode (FOB) is wat volgens Lev 23:6 en Num 28:17 op die 15 de dag van die maand moet begin.  Diegene wat dus aandring daarop dat die “erev” waarop die “pesach” geslag word met “aand” (in die sin van: “na sonsondergang”) vertaal word, het een van twee keuses: Of die “pesach” word in die aandgedeelte aan die begin van 14 Avib geslag (volgens die Skrif begin ‘n nuwe dag met sonsondergang) en dan begin die FOB volgens Deut 16 op die 14 de Aviv (en nie op die 15 de soos dit hoort nie).  Of die “pesach” word in die aandgedeelte aan die einde van 14 Aviv geslag (dus streng gesproke op die 15 de Aviv) en dan het “pesach” nooit op die 14 de Aviv plaasgevind soos dit hoort nie.  Op suiwer Skriftuurlike gronde kan ons nie een van bogenoemde moontlikhede aanvaar nie. 

Exod 12:6; Lev 23:5; Num 9:3 en Num 9:5 handel ook oor die tydsbepaling van “pesach” en alhoewel daar geringe verskille is, kom die vertaling in al vier hierdie gedeeltes neer op die volgende: “In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van Yahweh”.  Vraag is, na watter “aand” word hier verwys?  Is dit die “aand” na sonsondergang aan die einde van die 13 de dag van die maand, wanneer die 14 de dag van die maand streng gesproke begin?  Is dit die “namiddag” van die 14 de dag van die maand, wanneer dit begin om donker te word?  Of is dit die “aand” aan die einde van die 14 de dag - streng gesproke alreeds die begin van die 15 de dag van die maand?  Die vertaling “teen die aand” in al vier hierdie gedeeltes is nie ‘n baie akkurate vertaling nie.  Die Hebreeuse uitdrukking “been ha’arbayim” kom in al hierdie  gedeeltes voor en dit sou meer korrek wees om dit te vertaal met “tussen die (twee) aande” of (vryer vertaal) “in die periode vandat dit begin donker word totdat dit heeltemal donker is”.  Die volgende vertalings vertaal hierdie uitdrukking met “between the (two) evenings”: Darby, Literal Translation of the Bible, Modern King James, Youngs Literal Translation, The Scriptures. 

Sommiges vertaal  “been ha’arbayim” met: “when the sun begins to decline”; ander gee weer die volgende uitleg: “from the sixth hour and onward” en “after the middle of the day” (vgl. John Gill’s Exposition of the Entire Bible).  Albert Barnes (in Albert Barnes’ Notes on the Bible) gee die volgende uitleg: “The most probable explanation is that it includes the time from afternoon, or early eventide, until sunset. This accords with the ancient custom of the Hebrews, who killed the paschal lamb immediately after the offering of the daily sacrifice, which on the day of the Passover took place a little earlier than usual, between two and three p.m. This would allow about two hours and a half for slaying and preparing all the lambs. It is clear that they would not wait until sunset, at which time the evening meal would take place. The slaying of the lamb thus coincides exactly with the death of our Saviour, at the ninth hour of the day.”  Op dieselfde trant verklaar Clarke: “The Jews divided the day into morning and evening: till the sun passed the meridian all was morning or fore-noon; after that, all was afternoon or evening. Their first evening began just after twelve o’clock, and continued till sunset; their second evening began at sunset and continued till night, i.e., during the whole time of twilight; between twelve o’clock, therefore, and the termination of twilight, the passover was to be offered” (Adam Clarke’s Commentary on the Bible)

Ten spyte van die stemme wat daarvoor opgaan dat “pesach” ‘n fees op sy eie was en in sy geheel (d.w.s. die slagting van lammers en die daaropvolgende maaltyd, sowel as die vertrek uit Egipte) op die 14 de van die maand plaasgevind het, is dit moeilik om in te sien hoe so ‘n standpunt volledig met alle gegewens in die Skrif versoen kan word.  Dit sou daarop neerkom dat ons “pesach”, Yahshua, nie op die voorgeskrewe tyd van die Torah “geslag” is nie.  Dit laat ons ook met oneindige probleme om ‘n hoofstuk soos Eksodus 12 te verstaan, waar daar ‘n duidelike ineenvloeiing plaasvind tussen die slagting van die lammers (op die dag van Pesach) en die haastige maaltyd, die dood van die eersgeborenes en die vertrek uit Egipte op die eerste dag van Ongesuurde Brode (vgl. vers 11, 12, 14-18).  Die Skrif verklaar onomwonde dat die volk uit Egipte vertrek het op die die 15 de van die maand (die dag na “pesach”) en nie op die 14 de dag van die maand nie (vgl. Num 33:3).  Die 14 de dag van die maand is die dag wat bekendstaan as “Pesach” omdat dit die dag is waarop die lammers geslag is en al die voorbereidings vir die Fees van Ongesuurde Brode getref is (veral die verwydering van suurdeeg uit die huise, omdat daar vir die volle periode van sewe dae geen suurdeeg “gesien” mag word nie - Deut 16:4).  Die feit dat die doodsengel streng gesproke eers op die dag na “pesach” (teen middernag, op die eerste dag van Ongesuurde Brode) by die huise wat met bloed besmeer was, verbygegaan (“passover”) het, doen nie afbreuk aan die betekenis van “pesach” wat letterlik “pass over” beteken nie.  Trouens, dit dien juis as ‘n verduideliking waarom die Skrif deurgaans so ‘n noue eenheid tussen “pesach” en die fees van Ongesuurde Brode handhaaf en soms selfs na “Pesach” as die eerste dag van “Ongesuurde Brode” verwys (vgl. Matt 26:17; Mark 14:12; Luk 22:7).

‘n Laaste gedagte: Kan dit dalk wees dat Yahweh in sy wysheid besluit het om op die belangrikste “pesach” van alle tye ‘n duisternis te beskik wat van 12 nm tot 3 nm geduur het (vgl. Matt 27:45) - juis om ‘n versterkte betekenis aan die bepaling van die Torah te gee wat stipuleer dat die “pesach” tussen twee “aande” of tussen twee “donkertes” geslag moes word - in hierdie geval die (buitengewone) donkerte in die middel van die dag en die normale donkerte met sonsondergang?  Ons weet dat die Messias sy laaste asem letterlik tussen hierdie twee “aande” uitgeblaas het.  Wat sou die diepere betekenis hiervan wees?  Alhoewel ‘n mens seker nie honderd persent seker kan wees nie, is dit redelik seker dat daar, soos met elke deeltjie van die Torah, ‘n dieper betekenis sal wees.  Die Skrif verklaar dat elke lam wat met “pesach” geslag is, heengewys het na Hom deur wie se bloed sondige mense van die toorn van die Allerhoogste gered sou word (o.a. Luk 22:20).  My vermoede is dat die twee “donkertes” waartussen die Messias hierdie reddingsdaad voltrek het op die 14 de van die maand Aviv, dui op die twee “donkertes” wat so ‘n beslissende rol in elke sondige mens se lewe speel, naamlik die duisternis van sonde (of die koninkryk van die duisternis, wat net ‘n ander naam is vir die leefwêreld van diegene wat nie die Messias erken nie) en die duisternis van die fisiese dood.  Die bloed wat Hy vir jou en my gestort het op daardie Groot Pesach hou vir ons die sleutel om uit die greep van hierdie houvas van die duisternis los te kom.  Dit word treffend (in dieselfde volgorde van duisternis - bloedvergieting - duisternis) in Kol 1:13-18 uitgebeeld: “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis (vers 13) ... in wie ons die verlsossing het deur sy bloed (vers 14) ... Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode (vers 18).  Watter geweldige ommeswaai bring dit nie in iemand se lewe wanneer die bloed van hierdie Paaslam oor sy lewe kom nie.  Nie net beteken dit ‘n “pass over” van die dood tot die lewe wanneer die Messias weer kom nie, dit beteken selfs nog meer: Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis (so staan daar in Kol 1:13) het ons “oorgebring” ( “passover”!) in die koninkryk van die Seun van sy liefde.  Wat ‘n verandering!  Wat ‘n magtige verlossing!