LEER VAN DIE VYEBOOM...

In die Skrif is daar talle verwysings na die einde van die aardse bestel waarin ons op die oomblik is.  Begrippe wat onder meer gebruik word om die sekerheid en die onafwendbaarheid van die einde te beklemtoon, is die volgende: Laaste dae (bv 2 Tim 3:1); daardie dag (Mat 26:29); laaste dag (Joh 6:39); laaste van die dae (Hos 3:5); laaste tye (1 Tim 4:1); laaste uur (1 Joh 2:18); die dag van Yahweh (Joël 2:1); groot dag (Sef 1:14); die einde (Dan 6:27); die tyd van die einde (Dan 8:17); vasgestelde tyd (Dan 11:35); einde van die dae (Dan 12:13); dié dag (Jer 25:33); dié tyd (Sef 3:19) en einde van die jare (Eseg 38:8).  Verwysings soos hierdie kom letterlik in honderde gedeeltes van die Skrif voor en dit sal tragies wees as die dringendheid van hierdie boodskap nie tot ons deurdring nie.

Volgens die boodskap van die hele Skrif kom daar ‘n dag wanneer die węreld soos wat ons hom ken, tot ‘n einde gaan kom en ‘n totaal nuwe bedeling ingelei gaan word.  Hierdie “dag” kan met reg beskou word as die grootste keerpunt in die węreld se geskiedenis.  As ‘n mens na die gebeure in die węreld kyk, sien jy daarin die tekens van die naderende einde, net soos wat ‘n mens na ‘n vyeboom en sy blare kyk en daarin die tekens sien van die naderende somer (Mat 24:32-34).  Die tekens wat deur die Skrif met die einde in verband gebring word, het aan die eenkant ‘n geleidelike gestalte (m.a.w. dit word oor ‘n periode voltrek wat reeds aan die gang is en wat reg aan die einde voltooi sal word), maar aan die ander kant het dit ook ‘n eenmalige gestalte (m.a.w. daar is ‘n aspek van elkeen van hierdie tekens wat nog in die toekoms lę en wat op, of net voor die “Dag van Yahweh” gaan plaasvind).  Die een wat die uitdruklike boodskap van die einde nie ernstig opneem nie en hom nie daarvoor gereed maak nie, word vergelyk met ‘n dwase persoon wat besig is om sy eie ondergang te bewerk (Mat 25:1-13).

Elkeen van ons behoort die eindtyd tekens te ken en te bestudeer, sodat ons in ons eie harte oortuig kan wees dat die einde nie meer ver is nie en ons lewens geheel en al kan wy aan die belange van ons Koning en sy koninkryk.  ‘n Tweede baie belangrike rede waarom ons die tekens van die tye moet bestudeer, is sodat ons die gevare en die slaggate van die eindtyd kan ken en kan seker maak dat ons nie mislei word nie.  In hierdie studie kyk ons na sekere tekens waaraan ons volgens die Skrif sal weet dat die einde voor die deur is en sodoende ‘n beter begrip ontwikkel van wat ons rondom ons sien gebeur...

1) Die verspreiding en verkondiging van die evangelie regoor die węreld.  “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele węreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mat 24:14).  Hierdie teken het in die laaste aantal jare  sterk op die voorgrond getree met die geweldige fokus  op węreldsending, evangelisasie-aksies en die gebruik van die moderne media om die evangelie tot in die mees verlate plekke ter węreld uit te bring.

2) Die verwerping en die verontagsaming van die waarheid van die Woord.   “Want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim 4:3,4).  Hierdie verse praat van ‘n tyd wanneer mense baie skepties en krities gaan wees teenoor Skriftuurlike waarhede wat geopenbaar word en morele waardes wat op die Woord gebou is.  Hierdie soort weerstand teen die gesonde leer kan beslis in ons dag gesien word.

3) Die vervlakking en die verkrummeling van die geloof van baie.  “Maar die Gees sę uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim 4:1 - vgl ook Luk 18:8 en 2 Tes 2:3).  Die geldigheid van hierdie teken blyk uit die feit dat daar vandag ‘n grootskaalse “uittog” uit die Christelike geloof plaasvind en dat mense hulle heil gaan soek in alternatiewe godsdienste en praktyke.  Dit is moontlik die grootste enkele rede waarom die Skrif - veral die Nuwe Testament - soveel klem lę op die belangrikheid van geloof, volharding, lydsaamheid, getrouheid en standvastigheid.  (Ons praat nie hier van die ontnugtering wat baie gelowiges in hulle verhouding met kerke en kerkmense beleef en die grootskaalse geloofwaardigheidskrisis waarin die Christelike kerk op die oomblik verkeer nie.  Dit is ‘n studie op sy eie, maar het sekerlik ook daartoe bygedra dat sommiges se geloof verkrummel het.)

4) Die verleiding en die verwarring van gelowiges deur valse profete.  “En dan sal baie tot struikel gebring word...en baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei...en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Mat 24:10,11,24).  Dis belangrik om daarop te let dat hierdie misleiers as “profete” gereken word, met ander woorde hulle sal groot aansien geniet onder gelowiges en in die kerklike węreld.  Hulle sal ook groot tekens en wonders doen om geloofwaardigheid aan hulle optredes te verleen.  Die Skrif sę baie duidelik dat die feit dat iemand groot tekens en wonders doen, is glad nie ‘n bewys dat hy nie ‘n valse profeet is nie.  Ons sal hulle slegs kan uitken as valse profete as ons na hulle “vrugte” kyk (Mat 7:15,16) en as ons hulle toets aan Mat 7:22,23 (hulle wat wetteloosheid voorstaan); 2 Pet 2:2 (hulle wat die weg van die waarheid belaster); 1 Joh 4:2 (hulle wat ontken dat Yahshua die Messias in die vlees gekom het) en 2 Joh 9 (hulle wat nie bly by die leer van Yahshua nie).

5) Die vermeerdering en die verheerliking van wetteloosheid en wettelose gedrag.  “En omdat die ongeregtigheid (Grieks: “Anomia” = wetteloosheid) vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mat 24:12 - vgl. ook 2 Tim 3:1-5). In Luk 17:26-30 sę Yahshua dat die geestelike en morele klimaat in die laaste dae vergelyk sal kan word met die klimaat in die  dae van Noag (‘n tyd toe die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was - Gen 6:5) en van Lot (toe Yahweh ge het: “Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar” - Gen 18:20).  Het ons nie vandag so ‘n punt bereik dat die mens se boosheid werklik weer “groot” geword het en sy sonde “swaar” voor die aangesig van Yahweh nie?  En word hierdie situasie nie aangehelp deur kerke se knaende (maar valse) boodskap dat Yahshua gekom het om die wet tot niet te maak nie?  Is baie leiers hiermee nie besig om wetteloosheid te verheerlik in plaas daarvan om dit (soos reg deur die Skrif gedoen word) te veroordeel nie?

6) Die vervolging en die verdagmaking van alle ware gelowiges.  “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.” (Mat 24:9,10).  Paulus bevestig hierdie waarheid as hy dit onomwonde stel dat almal wat godvrugtig wil lewe (letterlik: almal wat Yahweh waarlik wil dien en vrees) en aan Yahshua verbind wil bly, sal vervolg word (2 Tim 3:12).  Dit is nie net iets wat (op ‘n groot skaal) heel aan die einde gaan gebeur nie, maar dit gebeur alreeds vandag.  Omdat dit waarvoor die hemelse koninkryk staan so totaal indruis teen die aanvaarde reëls en praktyke van hierdie węreld, is dit onvermydelik dat die burgers van die koninkryk van Yahweh ‘n aanstoot sal wees vir hulle wat aardsgesind (Fil 3:19) en węreldgelykvormig (Rom 12:2) is.  Hierdie aanstoot is so intens dat dit selfs deurwerk op die terrein van familie- en gesinsbande: broer teenoor broer, vader teenoor kind, kind teenoor ouer (Mark 13:12,13).

7) Die verbrokkeling en die vernietiging van sondige vestings (“strongholds”) as strafmaatreël van Yahweh.  “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke” (Mat 24:7).  As ons hierdie voorspelling lees saam met gedeeltes soos Jer 46-51 en Openb 6-19, kan ons sien dat die gebeure van die laaste dae ‘n klimaks bereik wanneer Yahweh sy oordeel uitstort oor die sonde, sondige strukture en sondige nasies van hierdie węreld.  Soos elkeen van die sewe tekens wat in hierdie stuk na vore gebring word, het die vervulling van hierdie teken ook ‘n dubbele momentum: ‘n Deel daarvan sal reg aan die einde, met die aanbreek van die “Dag van Yahweh” vervul word - die ander deel word egter oor ‘n verlengde tydperk vervul en ons sien en hoor alreeds van gebeure waarin die toorn en die straf van Yahweh oor die sonde van hierdie węreld duidelik na vore gebring word.  In hierdie kategorie kan gedink word aan oorloë, terrorisme, natuurrampe en epidemies.  Alhoewel hierdie soort dinge as tragedies bestempel moet word, “onskuldige” mense se lewens daardeur verwoes kan word en dit soms ook met sondige motiewe “uitgevoer” word (soos in die geval van terrorisme), moet ons nie die moontlikheid buite rekening laat dat Yahweh dit kan “gebruik” of kan “toelaat” om sy oordeel oor ‘n bepaalde groep of nasie te voltrek nie.  Hoe nader ons aan die eindtyd beweeg en hoe meer ons samelewing met sondige praktyke besoedel word, hoe groter word die waarskynlikheid dat ons die katastrofiese gevolge daarvan gaan beleef en dat Yahweh die mensdom se “boosheid sal besoek” (Jes 13:11) al moet Hy sy “swaard” teen sekere nasies  “beveel” en “bestel” (Jer 47:7).

Bogenoemde is nie die enigste tekens van die naderende einde wat die Woord vir ons gee nie.   Maar dit behoort vir ons ‘n beter begrip en insig te gee oor wat op die oomblik in die węreld rondom ons (en in ons eie lewens) gebeur.  Dit het werklik tyd geword dat ons ons klaar maak om ons Elohim te ontmoet (Amos 4:12) - nie net deur mekaar af en toe te herinner “die einde is naby” nie, maar met ons heupe omgord (met die gordel van waarheid) en ons lampe aan die brand (met die waargagtige lig wat elke mens verlig) soos in die gelykenis (Luk 12:35) en met die gesindheid van iemand wat bereid is om alles wat hy het te verkoop sodat hy die saailand kan bekom waarin die verborge skat is (Mat 13:44).