DIE WET EN DIE NUWE VERBOND
As 'n mens die Skrif in sy geheel bestudeer, is daar eenstemmigheid oor die blywende geldigheid van die wet (lees gerus "Wat het van die Wet geword?"), maar daar is tog gedeeltes wat oor die jare dikwels aangehaal is as "bewyse" dat daar met die koms van die Messias 'n radikale breuk met die wet plaasgevind het en dat "Nuwe Testamentiese gelowiges" vrygestel is van die verpligtinge van die wet. Die doel van hierdie skrywe is om sommige van hierdie "bewyse" (dat die wet uitgedien sou wees) van naderby te beskou en daarop kommentaar te lewer. Hierdie skrywe dien as opvolg op die vorige en die bedoeling is om 'n basis te skep sodat ons uiteindelik by die vraag kan uitkom: "Watter deel van die wet is vandag nog geldig vir ons as nie-Joodse gelowiges?"
Die mees gepaste plek om te begin, is die uitsprake van die Messias self. Is dit waar dat Y'shua verklaar het dat die bedeling van die wet plek gemaak het vir 'n bedeling sonder die wet? In Luk 16:16 sê Hy: "Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van Elohim verkondig, en elkeen dring met geweld daarin." Sommige wil hierdie teks voorhou as 'n "bewys" dat die wet tot 'n einde gekom het. Sonder om 'n lang verduideliking van hierdie teks te gee, kan 'n mens maar net die moeite doen om die volgende vers ook te lees (Luk 16:17): "Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val". Niemand sal dit wil betwyfel dat hierdie vers 'n byna woordelikse herhaling (of net 'n ander evangelis se weergawe) van die bekende Mat 5:18,19 is nie: "Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele." Enige iemand wat 'n uitspraak van ons Meester wat in hierdie konteks gemaak is, wil gebruik om die wet te diskrediteer, sal weer 'n slaggie na die betrokke gedeelte (en na sy eie motiewe) moet kyk.
Nog 'n gedeelte uit die evangelies wat ook soms in hierdie verband aangehaal word, is Joh 1:17: "Want die wet is deur Mosheh (Moses) gegee; die genade en die waarheid het deur Y'shua die Messias gekom." Ook hier hoef 'n mens nie in groot detail in te gaan nie. Dit is duidelik dat Johannes nie sê dat die wet deur die genade en die waarheid vervang is nie. Dit gaan oor twee bedelings (dié van Mosheh en dié van Y'shua) wat mekaar komplementeer en aanvul, nie mekaar uitsluit nie. Die einste Johannes wat hier aan die woord is, stel dit op ander plekke baie duidelik dat die wet en die gebooie nog altyd nagekom moet word - vgl. bv. 1 Joh 5:2,3: "Hieraan weet ons dat ons die kinders van Elohim liefhet: wanneer ons Elohim liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot Elohim dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie."
Selfs Stefanus, die eerste martelaar vir die Messias, word soms as "getuie" opgeroep om te bevestig dat die wet net tydelik was en deur Y'shua verander is. Die gedeelte wat ter ondersteuning aangehaal word, is Hand 6:14: "Want ons het hom hoor sê: Hierdie Y'shua, die Natsarener, sal hierdie plek afbreek en die sedes wat Mosheh aan ons oorgelewer het, verander." Dit is die beskuldiging wat teen Stefanus ingebring is, maar is dit werklik wat Stefanus gesê het? Ek betwyfel dit ten sterkste. In sy verweer in die volgende hoofstuk sê Stefanus onder meer die volgende (Hand 7:53): "...julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou het nie!" Soos sy Meester, het Stefanus die Joodse ringkoppe verkwalik dat hulle die hart van die wet nie nagekom het nie! Hierdie aanklag was die laaste strooi en so in die kol dat die lede van die Raad hom direk hierna in 'n uitbarsting van woede gestenig het.
Die Nuwe Testamentiese naam wat die meeste met die sg. "afskaffing" van die wet verbind word, is Paulus. Ek wonder dikwels wat Paulus se reaksie sou wees as hy moes hoor hoe sy briewe vandag misbruik word om 'n "wettelose" evangelie te regverdig wat deur die res van die Skrif verdoem word! Die ruimte ontbreek hier om meer as drie gedeeltes uit die briewe van Paulus te behandel. Wat 'n mens egter deurgaans by Paulus se briewe in gedagte moet hou, is dat daar in baie van die vroeë gemeentes 'n dwaalleer verkondig is wat daarop neerkom dat indien nie-Joodse gelowiges nie elke aspek van die wet (soos wat dit in die eerste vyf boeke van die tanach uitgestippel word, maar ook soos dit verder deur die Joodse sektes omskryf word) sou nakom nie, hulle nie gered kan word nie. Paulus probeer dus om dinge in perspektief te stel: Geen mens (Jood of nie-Jood) word gered deur die werke van die wet te onderhou nie - redding is alleen deur geloof in die Messias. Wanneer iemand waarlik tot geloof in die Messias gekom het, ervaar hy 'n vryheid en 'n begeerte en 'n nuwe motivering (bewerk deur die Gees) om Yahweh te dien, te gehoorsaam en in alles te behaag en vanselfsprekend bring hierdie begeerte hom terug by die wet waarin Yahweh eens en vir altyd sy volmaakte wil aan ons bekend gemaak het. Paulus se briewe probeer om hierdie waarheid van alle kante en hoeke te beklemtoon en die dwaalleer wat in sy dag verkondig is, met wortel en tak uit te roei. Sommige van sy argumente word egter deur "ongeleerde en onvaste mense verdraai" (lees gerus 2 Pet 3:15-17) as sou hy te kenne gee dat die wet nou minderwaardig en nutteloos geword het.
Een gedeelte uit Paulus se briewe waarna ek hier wil verwys, is Rom 10:4: "Want die Messias is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo." Baie mense sou verkies het dat hierdie vers slegs moes sê: "die Messias is die einde van die wet". Maar nou word daar bygevoeg: "...tot geregtigheid vir elkeen wat glo". Die argument is baie duidelik en word deur die res van die Romeinebrief bevestig: Die Messias se koms beteken dat mense nie langer hulle eie geregtigheid hoef te bewerkstellig deur die wet na te kom nie - geregtigheid word nou geskenk aan elkeen wat glo. Sy koms is dus die einde van 'n era waarin mense die wet nougeset moes nakom om regverdig genoem te word en die begin van 'n nuwe era waarin mense uit genade regverdig verklaar word (deurdat hulle sondes vergewe word) omdat hulle in die Messias as Verlosser glo. In hierdie nuwe "era" word die wet nie weggeneem nie, die wet word volgens Jer 31:31-33 en Heb 8:8-10 ingeplant in die harte van hulle wat op hierdie manier deur geloof in die Messias regverdig verklaar is.
'n Tweede gedeelte wat hier bespreek moet word, is Gal 3:10: "Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie." Sommige mense maak uit hierdie vers die afleiding dat hulle wat die wet onderhou, onder 'n vloek is. Die tweede gedeelte van die vers (wat 'n verduideliking van die eerste gedeelte is en 'n aanhaling uit Deut 27:26) sê egter presies die teenoorgestelde: Hulle wat nie die wet onderhou nie, is onder 'n vloek! Dit is 'n geestelike waarheid wat nooit sal verander nie: Die een wat Yahweh se gebooie oortree, sal gestraf word! Juis daarom was dit nodig vir die Messias om te sterf - sodat hy ons wat oortreders van die wet was, se straf (die vloek van die sonde) op Hom kon neem. As ons op die werke van die wet probeer staatmaak vir ons redding, bly ons onder hierdie vloek. As ons egter in die geloof vasgryp aan die Messias en dit wat Hy vir ons gedoen het, neem Hy die vloek van ons weg. Dit alles sal egter pure verniet wees as ons die een oomblik in die geloof vasgryp aan die Messias, net om die volgende oomblik weer oortreders van die wet te word en so opnuut 'n vloek oor onsself bring!
'n Derde gedeelte uit Paulus se briewe wat dikwels verkeerd verstaan (en soms ook verkeerd vertaal) word, is Kol 2:13-17: "En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die folterpaal vas te nael, nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het. Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus." Die afleiding word dikwels uit hierdie gedeelte gemaak dat die "insettinge" in vers 14 op die wet dui en dat dit hierdie insettinge is wat Y'shua met sy dood "uitgedelg" en "weggeruim" het. Die noukeurige leser sal egter sien dis nie die insettinge wat Hy uitgedelg het nie, dis die skuldbrief wat Hy uitgedelg het. Hierdie skuldbrief was ons vyandig omdat ons skuldig was deurdat ons die wet oortree het. Hierdie skuld het Y'shua egter weggeneem by die wat in Hom glo.
Vers 16 en 17 kry 'n "nuwe" betekenis as dit letterlik vertaal word: "Moenie dat enige mens julle oordeel in spys en in drank nie - hetsy met betrekking tot 'n fees, of 'n nuwemaan of sabbatte nie - wat 'n skaduwee is van die toekomstige dinge - maar die liggaam van die Messias." Moet dus nie toelaat, sê Paulus, dat sommer enige iemand jou beoordeel in sake wat met kos en drank te make het nie, ongeag by watter feesgeleentheid hierdie kos en drank gebruik word nie. Al hierdie dinge is maar net 'n skaduwee van die dinge wat nog vir julle voorlê. Net die liggaam van die Messias - die gemeenskap van gelowiges - het die bevoegdheid om julle in hierdie sake te beoordeel. Die feeste en die sabbatte is dus nie onder dispuut in hierdie vers nie - dit word as vanselfsprekend aanvaar, al is dit net 'n skaduwee - dit gaan oor wie mag oordeel of besluit wat geëet en gedrink mag word, en wie nie. (Hierdie vertaling kan gekontroleer word deur die oorspronklike Griekse teks na te gaan - lees gerus ons afsonderlike artikel oor Kol 2).
Ek wil afsluit met 'n vlugtige bespreking van Heb 8:6: "Maar nou het Hy ’n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ’n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is." Die woorde "voortrefliker bediening", "beter verbond" en "beter beloftes" dui daarop dat die nuwe verbond wat deur Y'shua ingelei is, in die plek van die ou verbond gekom het omdat dit op beter beginsels gebou is. Dat dit so is, kan deur niemand betwyfel word nie - selfs die Ou Testament bevestig dit en die Hebreërskrywer haal aan uit gedeeltes soos Jer 31 om sy stelling te staaf. Die nuwe verbond is beter omdat geregtigheid nou "toegereken" word en nie meer "verwerf" word nie (vgl. Paulus se breiwe). Die nuwe verbond is beter omdat daar nie meer baie priesters nodig is nie, want daar is Een wat die priesterlike taak volledig op Homself geneem het (Heb 7:22-25). Die nuwe verbond is beter omdat daar nou 'n Volmaakte Hoëpriester is wat nie meer herhaaldelik offers bring nie, maar Homself eens en vir altyd vir ons geoffer het (Heb 7:26,27). So kan 'n mens aangaan.
Die nuwe verbond is egter ook beter as die ou verbond omdat Yahweh se wette nou in mense se verstand en op hulle hart geskrywe word (Heb 8:10). Dis nog dieselfde wette as onder die ou verbond, omdat Yahweh se kriteria van wat reg en wat verkeerd is, nooit sal verander nie, maar deur sy Gees skep Hy 'n nuwe, innerlike motivering om sy wette te gehoorsaam. Nou is dit nie meer vir mense nodig om mekaar gedurig daaraan te herinner dat hulle Yahweh moet dien en moet gehoorsaam nie, "want almal sal My ken, klein en groot onder hulle" (Heb 8:11). Want sien, Yahweh self het sy wette op die tafels van hulle harte geskryf. Sekere bepalings van die wet het wel oorbodig geraak - soos dié wat te make het met die bring van offers, want "deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word" (Heb 10:14). Die grootste gedeelte van die wet is egter nog steeds die absolute norm van reg en verkeerd, en steeds 'n akkurate uiteensetting van wat liefde tot Yahweh en liefde tot ons naaste behels.