DIE VERWERPING
VAN DIE WET ONDER DIE DEKMANTEL VAN GENADE
Die Skrif, en
veral die briewe van Paulus, beklemtoon dikwels dat ons nie deur die werke van
die wet gered (of geregverdig) word nie, maar deur die genade wat die Vader aan ons bewys het toe Hy sy Seun gestuur het om in ons plek te sterf. Paulus se
brief aan die Romeine is die boek in die Nuwe Testament wat hierdie waarheid
seker die meeste beklemtoon. Daar is egter vandag 'n baie groot groep
gelowiges (en kerke) wat hieruit die afleiding maak dat wet en genade direkte
teenoorgesteldes van mekaar is en mekaar volkome uitsluit: As jy glo dat jou
redding uit genade is, dan hoef jy nie meer die wet te hou nie. En omgekeerd: as
jy erns maak met die wet van Yahweh, dan is dit 'n bewys dat jy 'n streep trek
deur sy genade. Niks is verder van die waarheid (en die boodskap van Skrif) as
dit nie.
Kyk 'n mens na
spesifieke hoofstukke in Romeine waarin daar van genade gepraat word, is dit
opvallend dat nie een van hierdie hoofstukke afwysend staan teenoor die inhoud
van die wet of die verpligting wat op gelowiges rus om aan Yahweh gehoorsaam te
wees nie. In Rom 3:24 lees ons dat mense wie se lewens voorheen deur sonde
gekenmerk is, "word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die
verlossing wat in Yahshua die Messias is". In dieselfde hoofstuk (dieselfde
konteks) vra Paulus die vraag: "Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof?"
Sy antwoord is baie duidelik: "Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die
wet" (vers 31). In die volgende hoofstuk word dieselfde waarheid op 'n ander
manier gestel en verklaar Paulus dat die geregtigheid "uit die geloof (is),
sodat dit volgens genade
kan wees ..." (Rom
4:16). In dieselfde hoofstuk (4:25)
verwys hy egter na Yahshua "wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en
opgewek is ter wille van ons regverdigmaking". As ons misdade (ons oortreding
van die wet) die oorsaak was dat Yahshua moes sterf, dan is dit onsinnig dat
mense wat deur sy dood geregverdig word, die groen lig kry om weer die wet te
oortree!
In
Rom 6 gebruik Paulus juis hierdie argument om te beklemtoon dat genade en wet
mekaar nie uitsluit nie. In vers 14 sê hy: "...want julle is nie onder die wet
nie, maar onder die genade". Party mense sal dadelik sê: "Aha, daar het
jy dit: swart op wit - ons is nie onder die wet nie, maar onder die genade!" -
As hulle die moeite gedoen het om verder te lees sou hulle presies verstaan wat
Paulus bedoel: "Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie
maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle
julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle
diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie - òf van die sonde tot
die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? Maar ons dank Elohim dat
julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het
aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is" (vers 15-17).
Om
onder die wet te wees beteken om op die wet staat te maak vir jou redding (Rom
3:19-20). Dit beteken om soos 'n slaaf aan sonde-doen gebind te wees (Rom 7:23)
- soveel so dat jy nie vrylik 'n kind van Yahweh
kan wees nie (Gal 4:4-5). Dit beteken ook dat jy nie in staat is om
deur die Gees van Yahweh gelei te word nie (Gal
5:18). Daarom moes mense soos die
Jode en ook ons deur Yahshua losgekoop word sodat ons nie meer onder die wet is
nie, maar onder die genade. Die wet, as uitdrukking van Yahweh se wil, het
hiermee egter nie sy plek in ons lewe verloor nie. Nee, waar ons voorheen
diensknegte van die sonde was, is ons nou diensknegte van geregtigheid. Dit
behels gehoorsaamheid aan die Wet en die Woord en die Wil van Yahweh (iemand wat
geregtigheid ken is iemand in wie se hart die wet is - Jes 51:7) - nie teen wil
en dank nie, maar "van harte" (Rom 6:17) omdat die Vader sy oorvloedige genade
in ons lewens uitgestort het!
-
Het Yahshua dan nie die wet vervul toe Hy aan die folterpaal gesterf het en daarmee
'n nuwe "bedeling" sonder die wet ingelei nie?
Nee, want Hy het self gesê: "MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die
profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.
Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal
nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur
het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die
mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele;
maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk
van die hemele."
-
Staan daar dan nie in Hebreërs 8 dat die wet misluk het en dat Yahweh 'n "beter"
plan moes maak nie? Nee, daar staan
dat die ou verbond onvoldoende was - nie omdat die wet onvoldoende was
nie, maar omdat die mense nie by die verbond gebly het nie (vers 8).
Die "plan" wat Yahweh gemaak het is 'n nuwe verbond waarin dieselfde wet
nou op mense se harte geskryf word (vers 10). Rom 8:3 sê die wet was
kragteloos as gevolg van die vlees. Dit beteken nie dat die wet
onvolmaak is nie, maar dat die vlees van die mens onvolmaak is. Die
Woord sê duidelik dat die wet volmaak is (vgl. Ps 19:8 en Rom 7:12).
-
Hoekom moet ons as nie-Jode die wet onderhou as die wet net aan Jode gegee is?
Die Woord sê duidelik dat Yahweh nie met twee stelle wette werk nie. Mense van
ander volkere wat hulle by Israel aangesluit het, moes ook hulle wette
onderhou (Ex 12:49, Lev 24:22, Num 15:15-16, Jes 56:6,7). Ons kan nie ewe
rustig die beloftes en die voorregte van die verbond vir onsself toe-eien,
maar onsself verskoon wanneer dit kom by die verantwoordelikhede wat
onlosmaaklik daaraan verbind is nie. Die nuwe verbond is in werklikheid aan
Israel gegee en belowe, maar nie-Jode wat in die Messias glo, kan deel word
van hierdie verbond en op dié manier deel word van die "nageslag van Abraham"
en die "Israel van Elohim" (Rom 2:28,29; Rom 9:4-8; Rom 10:12; Gal 3:26-29;
Gal 6:16)
-
Sê die Skrif dan nie dat diegene wat in die Messias glo, is vrygemaak van die
wet nie? Die Skrif sê nêrens dat
gelowiges vrygestel is van die onderhouding van die wet nie. Daar staan wel
dat ons vrygemaak is van die sonde (Rom 6:18,22), dit wil sê sonde (en wetteloosheid) voer nie meer die botoon
in ons lewens nie. Rom 8:2 sê dat "die wet van die Gees van die lewe in
Yahshua die Messias het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood".
Dit beteken die Gees van Yahshua het so 'n verandering in my hart teweeg
gebring dat ek nie meer 'n begeerte na sonde het nie en daarom ook nie meer
geestelik dood is nie. In Gal 5:1 sê Paulus dat ons moet vasstaan in die
vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, maar dan voeg hy by: "en laat
julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie" - met ander woorde:
"maak seker dat julle nie weer diensbaar aan die sonde word nie". In vers 13
sê hy ons is tot vryheid geroep, maar dan voeg hy onmiddellik by: "Gebruik net
nie julle vryheid as 'n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur
die liefde". Vryheid is vir Paulus dus geensins 'n vrypas tot wetteloosheid
nie.
-
Het Paulus dan nie in 2 Kor 3:6 geskryf dat die letter van die wet doodmaak
nie? Ja, hy het, en die bedoeling
is duidelik dat die letter van die wet tot die dood lei omdat almal gesondig
het (Rom 3:23) en omdat die loon van die sonde die dood is (Rom 6:23). As 'n
mens dus bloot aan die letter van die wet vashou, is dit soos 'n dokument
waarin jou doodsvonnis aangekondig word. As 'n mens egter op die Gees vertrou,
word jy in staat gestel om volgens die Wet en die Woord en die Wil van Yahweh
te lewe. Daarom is dit net die Gees van Yahweh wat 'n mens kan lewend maak.
Paulus beskryf hierdie waarheid treffend in Rom 8:4-8: "Die reg van die wet
(word) vervul in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees ...
want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en
vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen Elohim is; want
dit onderwerp hom nie aan die wet van Elohim nie, want dit kan ook nie. En die
wat in die vlees is, kan Elohim nie behaag nie."
-
Waarom moet ons die wet gehoorsaam as ons nie deur die werke van die wet
geregverdig word nie? Omdat die
Skrif herhaaldelik beklemtoon dat gehoorsaamheid aan Yahweh 'n keuse is en dat
geen mens wat nie bereid is om 'n pad van gehoorsaamheid (aan die Wet en die
Woord en die Wil van Yahweh) te loop nie, gered sal word nie. Die wet op
sigself, sonder die innerlike werking van die Gees van Yahweh, kan geen mens
in die regte verhouding met die Vader bring nie. Iemand wat egter deur die
Gees van Yahweh gelei word, begin dadelik met die proses om "die werke van die
vlees" in sy lewe dood te maak (Rom 8:13). Daarom sê Heb 5:9 dat die Seun 'n
bewerker van ewige saligheid is vir almal wat aan Hom gehoorsaam is.
Daarom sê 1 Joh 2:17 slegs hulle wat die wil van die Vader doen sal vir ewig lewe.
Daarom sê Openbaring 15:9-12 dis net "hulle wat die gebooie van Elohim
en die geloof in Yahshua" bewaar wat nie die beker van Yahweh se toorn sal
drink nie.
