DIE VERWERPING VAN DIE WET ONDER DIE DEKMANTEL VAN GENADE

Die Skrif, en veral die briewe van Paulus, beklemtoon dikwels dat ons nie deur die werke van die wet gered (of geregverdig) word nie, maar deur die genade wat die Vader aan ons bewys het toe Hy sy Seun gestuur het om in ons plek te sterf. Paulus se brief aan die Romeine is die boek in die Nuwe Testament wat hierdie waarheid seker die meeste beklemtoon. Daar is egter vandag 'n baie groot groep gelowiges (en kerke) wat hieruit die afleiding maak dat wet en genade direkte teenoorgesteldes van mekaar is en mekaar volkome uitsluit: As jy glo dat jou redding uit genade is, dan hoef jy nie meer die wet te hou nie. En omgekeerd: as jy erns maak met die wet van Yahweh, dan is dit 'n bewys dat jy 'n streep trek deur sy genade. Niks is verder van die waarheid (en die boodskap van Skrif) as dit nie.

Kyk 'n mens na spesifieke hoofstukke in Romeine waarin daar van genade gepraat word, is dit opvallend dat nie een van hierdie hoofstukke afwysend staan teenoor die inhoud van die wet of die verpligting wat op gelowiges rus om aan Yahweh gehoorsaam te wees nie. In Rom 3:24 lees ons dat mense wie se lewens voorheen deur sonde gekenmerk is, "word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Yahshua die Messias is". In dieselfde hoofstuk (dieselfde konteks) vra Paulus die vraag: "Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof?" Sy antwoord is baie duidelik: "Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet" (vers 31). In die volgende hoofstuk word dieselfde waarheid op 'n ander manier gestel en verklaar Paulus dat die geregtigheid "uit die geloof (is), sodat dit volgens genade kan wees ..." (Rom 4:16). In dieselfde hoofstuk (4:25) verwys hy egter na Yahshua "wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking". As ons misdade (ons oortreding van die wet) die oorsaak was dat Yahshua moes sterf, dan is dit onsinnig dat mense wat deur sy dood geregverdig word, die groen lig kry om weer die wet te oortree!

 In Rom 6 gebruik Paulus juis hierdie argument om te beklemtoon dat genade en wet mekaar nie uitsluit nie. In vers 14 sê hy: "...want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade". Party mense sal dadelik sê: "Aha, daar het jy dit: swart op wit - ons is nie onder die wet nie, maar onder die genade!" - As hulle die moeite gedoen het om verder te lees sou hulle presies verstaan wat Paulus bedoel: "Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie - òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? Maar ons dank Elohim dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is" (vers 15-17).

 Om onder die wet te wees beteken om op die wet staat te maak vir jou redding (Rom 3:19-20). Dit beteken om soos 'n slaaf aan sonde-doen gebind te wees (Rom 7:23) - soveel so dat jy nie vrylik 'n kind van Yahweh kan wees nie (Gal 4:4-5). Dit beteken ook dat jy nie in staat is om deur die Gees van Yahweh gelei te word nie (Gal 5:18). Daarom moes mense soos die Jode en ook ons deur Yahshua losgekoop word sodat ons nie meer onder die wet is nie, maar onder die genade. Die wet, as uitdrukking van Yahweh se wil, het hiermee egter nie sy plek in ons lewe verloor nie. Nee, waar ons voorheen diensknegte van die sonde was, is ons nou diensknegte van geregtigheid. Dit behels gehoorsaamheid aan die Wet en die Woord en die Wil van Yahweh (iemand wat geregtigheid ken is iemand in wie se hart die wet is - Jes 51:7) - nie teen wil en dank nie, maar "van harte" (Rom 6:17) omdat die Vader sy oorvloedige genade in ons lewens uitgestort het!